Local NewsNews

Padprobleme laat inwoners rooi sien

Dis nie net erge brande wat skade aanrig in Maribashoek nie, maar die slegte pad veroorsaak dat talle inwoners en boere wat daar woon met hulle hande in die hare sit.

MOKOPANE – Hulle kla dat hulle voertuie groot skade kry en dat die Mogalakwena Munisipaliteit niks doen om die pad te herstel of op te gradeer nie.

Yolande Coetzee, DA raadslid van Mogalakwena Munisipaliteit, het aangebied dat Bosveld en Brendon Williams, ‘n boer van die omgewing, saam met haar ry om die padprobleme van nader te besigtig. Dit het gou duidelik geword dat ‘n mens nie die pad na Maribashoek en Oorlogsfontein met ‘n gewone motor kan aandurf nie.

Coetzee lê die skuld vir die swak toestand van die pad voor die deur van die munisipaliteit. “Sowat vyf maande gelede het die munisipaliteit aan die pad begin werk deur klipperige grond in te ry. Daarna het hulle dit half geskraap sonder om die klippe te kompakteer sodat daar net een baan beskikbaar was om in te ry. Die pad was voorheen in ‘n slegte toestand, maar is nou 10 keer erger.”

Coetzee beweer die Tegniese Departement van die munisipaliteit het beloftes gemaak dat die grond wat ingery was, gekompakteer sou word met ‘n roller en daarna weer ordentlik geskraap sal word sodat dit rybaar is. “Tot vandag toe is dit nie gedoen nie. Die gemeenskap lei groot skade weens die onvoltooide werk en boonop sit die tegniese afdeling sonder die nodige geld en die inwoners sonder dienste waarvoor hulle betaal.”

Williams sê die munisipaliteit se amptenare het ook aan hom verskeie leë beloftes gemaak en vyf maande later sit die inwoners met reuse skade aan hul voertuie en motorbande. “Volgens die department is daar tans nie geld beskikbaar om die werk te voltooi nie en is hul toerusting stukkend en by diensverskaffers. Ek is moeg vir leë beloftes. Hulle moet eerder reguit sê hulle gaan dit nie kan herstel nie, dan vat ons tariewe en belasting fondse en betaal iemand wat dit kan doen. Dis onaanvaarbaar dat die inwoners moet betaal vir dienste wat geensins gelewer word. Gelukkig het ‘n goedhartige inwoner ‘n gedeelte op eie koste kom skraap, maar dis onmoontlik om die pad op eie stoom te onderhou en op ‘n standaard te kry vir voertuie om daarop te kan ry.”

Pam Kleynhans ‘n eienaar van ‘n hoewe op Oorlogsfontein, sê hulle voertuie het al duisende rande se skade opgedoen. “Dan praat ek nie eers oor die verlies van inkomste nie. Ons het woonstelle wat ons verhuur en die huurders wil nie meer by my huur nie weens die pad wat hulle voertuie so verniel. Met die onlangse brande in die omgewing het ‘n menigte helpers skade op hul voertuie gekry en is hulp vertraag weens die swak toestand waarin die pad is.”

Bosveld het teen druktyd nog geen terugvoering van die munisipaliteit oor die aangeleentheid teruggekry nie.

bosnews@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button