CrimeNews

Verdagtes vasgetrek na vinnige optrede

Die spoedige optrede van Suricat Sekuriteit se beheerkameroffisiere Willem Venter en Shaun Louw, het waarskynlik verhinder dat 'n sake-onderneming skade gely het.

MOKOPANE – Willie Harmse, reaksie-offisier van Suricat Sekuriteit sê die vinnige optrede van dié twee offisiere het onlangs tot die inhegtenisname van twee verdagtes, Earnest Nthetho Manaka (37) en David Malose Kwati (33) gelei. Willie was saam met sy kollegas, Leon Hurter en Chris van Schalkwyk aan diens toe hulle onlangs net na 01:00 ‘n oproep van die beheerkamer ontvang het. Willem het hulle ingelig dat Furn 4 U se alarm afgegaan het.

“Ons het in verskillende voertuie na die toneel gehaas. Ek het net stilgehou toe ek ‘n verdagte in Retiefstraat sien hardloop met ‘n televisie en om die hoek van Ruiterweg na Mokopane Lodge se kant sien verdwyn.”

Willie vertel hy het die verdagte agterna gesit en by Mokopane Lodge vasgekeer. “Leon het hom by my aangesluit en ek het hom ingelig daar is ‘n tweede verdagte wat in Ruiterweg in die rigting van Nelson Mandela Rylaan hardloop.”

Leon sê hy en Chris het die man gejaag tot waar polisieoffisiere hom in hegtenis geneem het op die hoek van Nelson Mandela- en Ruiterweg.’n Televisiestel en klankstelsel wat gebuit is, is teruggekry.”

Die tweede verdagte is ook inhegtenis geneem.

Sersant Irene Masingi, Woordvoerder van Mokopane SAPD, sê die winkeleienaar beweer dat hy ‘n oproep van Suricat Sekuriteit ontvang het dat daar ‘n inbraak by die winkel is. “Die eienaar sê by aankoms op die toneel het hy die polisie en Suricat-offisiere op die toneel gevind. In die besit van die verdagtes is ‘n Telefunken TV 58-duim, en spreker ter waarde van R10 500 gevind.”

Volgens Masingi is Manaka en Kwati aangekla vir huisbraak met die doel om te steel en besit van vermoedelik gesteelde goedere. Albei het op 5 November in die Mokopane landdroshof verskyn en is die saak tot 16 November uitgestel vir verdere ondersoek.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button