Local NewsNews

‘Oorwinning vir Solidariteit, maar ook ‘n tragedie vir almal’

'n Bittersoet hoofstuk is afgesluit vir Hannes Korff toe die plaas Sunningdale verlede Vrydag, 19 Oktober, onder die hamer gekom het.

MOKOPANE – Korff, ‘n gewese boer en plaasbestuurder van Sunningdale buite Mokopane, het Soldariteit genader vir hulp omdat die Workers Trust nie sy lening van R400 000 wou terugbetaal nie. Solidariteit het die plaas op 20 Junie besoek en Korff suksesvol by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verteenwoordig. Die plaas is op Vrydag 19 Oktober opgeveil en 199 hekaar van die 480 hektaar is verkoop vir R1,4 miljoen.

Hannes Korff, was vir 13 jaar die plaasbestuurder van Sunningdale. Foto’s: Solidariteit

Anton van der Bijl, Solidariteit se Hoof van Arbeidswetlike Departement, sê deur middel van ‘n grondhervormingsproses is Sunningdale oorgedra na die Workers Trust in 2010.

“Die trust het Korff onregmatig afgedank en hom R400 000 geskuld vir salarisse wat Korff nooit van die trust ontvang het nie. Nou kan die trust sy skuld van R400 000 aan Korff terug betaal. Hierdie is ‘n groot oorwinning vir Solidariteit, maar die werklikheid van die verval op die plaas is ‘n tragedie vir almal.”

Korff was die plaasbestuurder van Sunningdale, wat ‘n florerende druiwe- en sitrusplaas van 480 hektaar was vanaf 1997 tot 2010.Volgens Van der Bijl is dit duidelik dat onbekwame begunstigdes die eens suksesvolle plaas en besigheid in die grond in bestuur het. “Daar is niks van die eens spog plaas oor nie en dit is nou gereduseer tot bouvalle, en afgekapte lemoenbome wat vir vuurmaakhout gebruik word.”

Van der Bijl sê die plaas het voorheen sowat 158 werkers in diens geneem.

“Dus word 158 gesinne (sowat 600 mense), nie meer gevoed nie weens ‘n rampspoedige grondhervormingstransaksie aan onbekwame begunstigdes. ‘n Mens hoor dikwels van die rampspoedige gevolge van nie deurdagte grondhervormings­transaksies. Dit is egter eers wanneer jy tussen die bouvalle staan en die magdom besproeiingspype wat net uit die grond geruk is en aan die kant van die boorde in die son lê en vergaan sien, dat die besef werklik insink.”

Van der Bijl sê volgens Korff sal dit sowat R50 miljoen kos om die plaas weer tot sy voormalige glorie te herstel. “Dit sluit in die pakhuise, plaashuise, besproeiingstelsel, wingerde, lemoenboorde, skadunette, grensdrade, en 37 boorgate wat geplunder is en met klippe toegegooi is. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie tragiese uiteinde van die eens florerende en winsgewende plaas nie net die plaasbestuurder, werkers en omliggende gemeenskap raak nie. Die plaas het hoofsaaklik sy produkte uitgevoer, dus word die ekonomie ook swaar deur hierdie verval getref.”

Korff het aan Bosveld gesê: “Dit is hartseer om te sien dit wat jy vir 13 jaar op gebou het, so gelos word om te vergaan. ‘n Deel van ons herinneringe, ons lewe in ‘n huis en harde werk in boorde word uit jou lewe geruk en vervang met skadus van murasies en droë stokke wat eens lemoenboorde was. Jou droom verander in ‘n nagmerrie. Die veiling is’n boek wat ons nou moet toemaak.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button