Local NewsNews

Droom van 19 jaar uiteindelik waar

Vir 19 jaar droom Melinda van Rooyen daarvan om haar eie CD vry te stel en hierdie Saterdagaand word haar droom bewaarheid.

POLOKWANE – Terwyl ons in die koffiewinkel sit en gesels, vertel sy my dat sy reeds twee jaar terug met die CD-opname begin het.

“Ek skryf al die musiek self en my inspirasie is die pad wat die lewe met my stap.

“‘n Mens moet uiting gee aan jou gevoelens en soms is dit net makliker om musiek te gebruik.”

Sy vertel dat haar gunsteling liedjie op die album een is wat sy vir haar sussie wat in 2009 oorlede is, geskryf het.

Melinda se sangloopbaan het reeds in haar gr.8-jaar begin toe sy gevra is om deel te vorm van die agtergrondstemme van ‘n musiekspan wat slegs uit tieners bestaan het.

Dit was by Dunamis Jeugbediening.

“Ek was nog altyd lief vir musiek en het met musiek in die huis groot geword. My pa het altyd orrel gespeel. Op laerskool was voordrag my groot liefde, maar toe die sanggogga my op hoërskool byt, was ek gaande oor musiek. Een van die ouens in die musiekgroep het my genooi om saam te sing.”

In 1997 het sy aangesluit by Lewende Woord se Tom’s College of Performing Arts waar sy onder leiding van operasanger, Erik Visser, haar stem en verhoogoptrede ontwikkel het.

“In hierdie tyd het ek saam met Johan Heystek by Mosaiekgemeente in Randburg se musiekdepartement, gewerk. Hy inspireer my geweldig. Hy het gehelp dat ek my volle potensiaal ontwikkel. Dis ook hier waar ek my eerste liedjie, ‘Ek is veilig’ geskryf en opgeneem het.”

Ongeveer 10 jaar gelede het Melinda en haar man, Emile, na Polokwane verhuis en in 2011 het sy aan die Angel Music Productions se sangkompetisie deelgeneem.

“Ek het ‘n eerste plek in die gospelafdeling behaal en die prys was ‘n musiekvideo van die wenliedjie.”

Deur die dag is sy ‘n persoonlike assistent en grafiese ontwerper by Bet Shalom en in haar vrye tyd hou sy en Emile daarvan om te kampeer.

“Ek glo daar is ‘n rede vir alles en dat daar dalk net een liedjie op my CD is wat iemand anders hoop kan gee. ”

Haar CD is by Marnè Studios opgeneem.

Die CD vrystelling vind Saterdagaand om 19:00 by Bet Shalom gemeente plaas. Kaartjies kos R70 per persoon en kinders onder 10 gaan gratis in.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button