Local NewsNews

Rumay straal op glansaand na tragedie

Nooit het Landie Dickinson, ma van Rumay Oosthuizen, gedink sy sal haar kind op die rooitapyt van Hoërskool Piet Potgieter se matriekafskeid sien loop nie.

MOKOPANE – Landie se wêreld het stil gaan staan toe sy op Sondag, 17 Desember 2017 om 20:00 ‘n oproep kry en die stem aan die anderkant vir haar sê: “Jou dogter was in ‘n ernstige trompop motorbotsing.”

Landie sê: “Rumay het erge beserings in die ongeluk opgedoen. Haar boonste kakebeen was in die helfte gebreek en het in die middel van haar mond gehang, sy het ses tande bo verloor, haar regterskouer was gebreek, haar regter femur het in haar heup afgebreek, haar milt het gebars, haar linkerlong het plat geval en vier ribbebene was teen haar rug gebreek.”

Rumay Oosthuizen in Milpark Hospitaal kort na die botsing.

Landie sê ‘n motor in die aankomende baan het ‘n swaarvoertuig op ‘n sperstreep verby gevat en die voertuig waarin Rumay ‘n passasier was, ‘n dubbelkajuitbakkie het die motor tromop getref. “Rumay het op die agterste sitplek gesit en met die slag is sy deur die voorruit. Die dokters en spesialiste het vir my gesê dat Rumay leef is ‘n wonderwerk, dat bitter min mense die beserings oorleef wat sy opgedoen het. Dat sy deur die voorruit is en met net twee snytjies in haar gesig, is vir my ‘n bewys dat die Here se hand absoluut oor haar was. Die verpleegsters in Netcare Milpark Hospitaal sê Rumay is ‘n engelkind van God.”

Die voorruit waardeur Rumay Oosthuizen geslinger is.

Landie verduidelik omdat Rumay se milt gebars het, het sy geen weerstand teen selfs die geringste siekte nie. “Rumay het die nodige immuunopkikker-inspuitings gekry, maar nog steeds moet ons maar versigtig wees.”

Sy het ook ‘n traumatiese breinbesering opgedoen wat beteken haar brein het gerek en kan ses tot agt maande neem om te herstel. “Die nagevolge van die besering veroorsaak dat sy soms stuipe kry, wat weer veroorsaak dat sy of tydelik blind of lam is.

Die ander voertuig wat in die botsing betrokke was.

“Ek het aan Rumay die voorstel gemaak om vanjaar ‘n oorbruggingsjaar (gap jaar) te vat en volgende jaar haar matriekjaar aan te pak. Sy wou niks weet nie en het aangedring om skool toe te gaan. Sy het vir my gesê sy gaan vanjaar gr. 12 voltooi en beslis matriekafskeid toe gaan. Dit was moeilik. Sy was so twee weke by die skool toe sy val en ‘n hou teen die kop gekry het. Ons het toe besluit dit sal die beste wees as sy tuis studeer. Ons is ook baie dankbaar aan die onderwysers van Hoërskool Piet Potgieter en Hendriette Williams wat uit hulle pad gegaan het om Rumay te help. Die Skoolhoof, Jimmy Steele het spesiaal vir Rumay in Milpark Hospitaal besoek en ons as ouers bygestaan. Rumay is nog op die herstelpad en ons vat dit maar dag vir dag.”

Landie vertel deur al die trauma bly haar kind positief. Rumay het onder meer vir haar gesê: “As die kinders wat elke dag kla om skool toe te gaan maar net kan besef dit is ‘n voorreg en hulle moet dankbaar wees om die geleentheid te hê om skool toe te kan gaan. Hulle het die kans om ‘n gesonde grondslag vir hulle toekoms te lê. Die lewe is te kort om alles net as vanselfsprekend te aanvaar.”

Landie sê sy is net dankbaar dat haar kind nog ‘n kans op die lewe het. “Ek is positief, wat bydra tot haar herstel. Rumay se trauma en herstelproses sal ‘n getuie wees vir mense wat deur moeilike tye gaan.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button