Local NewsNews

Mokopane onnie-egpaar bult hul spiere

Dié Laerskool Krugerpark onnies se gedefinieerde spiere laat jou weer en weer kyk.

MOKOPANE  – Sy is lank en slank en haar gedefinieerde spiere laat jou weer en weer kyk.

Jaimee Smit se gespierde lyf het onlangs gesorg dat sy gekwalifiseer het om aan die National Amateur Body Building Association (Nabba)/World Fitness Federation (WFF) Wêreldkampioenskappe in die Verenigde State te gaan deelneem.

Jaimee, ‘n onderwyseres van Laerskool Krugerpark, het gekwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe nadat sy op 29 September 2018 aan die jaarlikse Nabba/WFF se SA Kampioenskappe deelgeneem het, wat by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria gehou is.

Jaimee sê dit is alles haar man Jaco, ook ‘n spiertier en onderwyser by Laerskool Krugerpark, se skuld.

“Hy het my aangemoedig om in te skryf vir die Nabba/WFF Suid Afrikaanse kompetisie.

“Ek het in die bikini-afdeling vir modelle langer as 1,63 m deelgeneem.”

Jaimee was onder een van die top vyf wat dan ook gekwalifiseer het vir die wêreldkampioenskappe wat aanstaande maand in die Verenigde State in Huntington Beach, California vanaf 2 tot 4 November gehou word.

Jaimee vertel sy het dit maar eintlik net vir haarself gedoen.

“Ek was werklik verbaas en het glad nie verwag om ‘n plek te kry nie.

“Ek was nie altyd die voorbeeldige een in die gymnasium nie.

“Ek was baie lief daarvoor om lekker te eet en hou van gemorskos. Ek het nooit strawwe oefeninge gedoen nie.

“Kort na my tweede kind se geboorte in Desember 2016 het ek ‘n agtweke aanlynoefenprogram gedoen en daarna het ek by dieselfde afrigter as Jaco begin oefen. Ek het in November verlede jaar aan my eerste kompetisie deelgeneem. My doelwit was om aan so kompetisie deel te neem voor my seun ‘n jaar word.”

Jaco glimlag breed en is trots op sy mooi vrou.

“Om binne ‘n jaar te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe verg baie harde werk en deursettingsvermoë veral as jy nie voorheen die sport beoefen het nie en daarvan hou om gemorskos te eet,” skerts hy.

Jaco is self ‘n kranige liggaamsbouer en ambassadeur vir Healthzone en Chrome-aanvullings en -toebehore, een van Suid-Afrika se voorste en grootste onafhanklike gesondheids- en welsynshandelaar.

Hy vertel die gimgogga het hom op 22-jarige ouderdom op universiteit gebyt.

“Ek was ‘n maer seun en was altyd die kleinste onder my vriende.

“Ek het in die gimnasium begin oefen en die een ding het na die volgende gelei. Na my eerste kompetisie het ek van die verhoog afgestap en dadelik ingeskryf vir die volgende.”

Jaco vertel laggend hy het altyd vir Jaimee gesê jy sal hom nie in een van daai klein onderbroekies op ‘n verhoog kry nie.

“En hier doen ek dit nog steeds vier jaar later vandat ek aan my eerste kompetisie deelgeneem het.”

Vir Jaco en Jaimee is dit deesdae ‘n leefstyl om gesond te leef, ‘n balans te vind en om ander te help.

“Vir ons gaan dit nie oor die bekendheid of die glorie van om op ‘n verhoog te staan nie. Vir ons gaan dit daaroor om mense te help en dit motiveer ons ook om ander te sien hulle doelwitte bereik. Een van ons kliënte het binne agt weke 16 kg verloor.

“Om te sien hoe daardie persoon voor jou verander en ‘n gedaanteverwisseling en persoonlikheidsverandering ondergaan en ‘n beter selfversekerde mens word, dit is waarvoor ons werk.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button