Local NewsNews

Andy ‘n sakeman in murg en been

Andy Goetsch, bekende sakeman in Mokopane, is 'n gerespekteerde inwoner wat die dorp se welstand en vooruitgang al vir jare op sy hart dra.

MOKOPANE – Wanneer daar na die pragtige klassieke motors wat op die vloer van Modern Service Stasie pronk gekyk word, is dit duidelik dat Goetsch (73), eienaar van Autec Carwash. Engen vulstasie en vorige eienaar van Autec Services, ‘n passie vir die motorbedryf het.

Hy was ook die eienaar van die Mercedes Benz agentskap in Mokopane voordat hy die Autec Services werkswinkel oopgemaak het.

Hierdie geliefde sakeman is nie verniet die vise-voorsitter van die Limpopo Klassieke motorklub nie, maar ook die afgelope vyf jaar president van die Mokopane Besigheidskamer.

Andy is in Mokopane gebore en getoë. Hy is getroud met, Retha en hulle het twee dogters. Hy vertel hoe hy in die motorbedryf beland het.

Andy Goetsch verduidelik hoe die ou petrolpompe gewerk het. Dié een was by sy petrolstasie gebruik.

“My pa het in 1940 Modern Services op dieselfde perseel gebou en oopgemaak. As kind het ek hom naweke en gedurende vakansies altyd gehelp en so met verloop van die jare dus ook baie ondervinding opgedoen.

“Toe ek in 1963 op Christian Boys College in Gauteng matrikuleer en my laaste vak die Vrydag skryf, het ek sommer die volgende dag dadelik vir my pa begin werk.

“Ek kon nie wag om hier aan te sluit nie. Tot vandag toe restoureer ek ou motors en ek het ‘n hele versameling wat ek gedurig skou as deel van die motorklub.”

Andy se passie en harde werk wys waarom hy so suksesvolle loopbaan het.

“Die besigheid is een van die oudstes in die dorp, al bykans 80 jaar deel van ons familie,” spog hy.

Oor sy presidentskap by die Besigheidskamer is hy ook baie trots. “Van die begin af was die besigheid betrokke by die sakekamer en ek het maar daarby ingeval.

“My vrou het eers aan die stuur van die sakekamer gestaan, en later is ek as president verkies.”

Volgens Andy is die geheim tot ‘n suksesvolle besigheid om ‘jou vinger op jou pols te hê’.

“By my besigheid maak ek en my dogter Anita, seker dat ons in elke aspek beheer het. Ek het al gesien dat wanneer daar kontrole is, sal die werknemers nie kanse probeer vat nie.

“Ons het 48 kameras in en om ons perseel wat ek sal aanraai vir besigheidseienaars wat suksesvol wil wees.”

Andy sê hy bly besig en geniet als wat hy aanpak.

“Ek is nou so te sê nog net by die Autec Carwash betrokke en het die diensgedeelte aan Herman Nel in 2009 oorgegee. Ons werk steeds saam op dieselfde perseel en help mekaar waar ons kan.”

Bosveld wou by Andy weet oor die toekoms van die dorp.

“Met al die platinum verwante myne sien ek net vooruitgang, maar voordat ons nie die Mogalakwena Munispaliteit reggeruk nie, sal dit moeilik wees om vooruitgang te bewerkstellig.

“Daar is baie korrupsie betrokke wat eers uitgesorteer moet word. As ek kyk na die toerisme in ons dorp is ons op die oomblik in ‘n slegte posisie.

“Ons het pragtige besienswaardighede soos die Makapans grotte, maar tans gaan daar nie veel aan nie. Ek was onlangs by die Mapungubwe museum wat maar die helfde van ons grotte se waardevolle geskiedenis het, en daar is elke dag sowat drie busse met toeriste.

“Ek sal graag wil sien dat ons toeriste na die grotte lok met sy ryke geskiedenis wat tot 4 000 jaar gelede strek.”

Vir ontspanning geniet hy dit om elke middag op sy wildsplaas sowat 15 km buite Mokopane, na sy wild te kyk en die diere te voer. “As ek aangery kom kan ek sien die diere wag al vir my om hulle te voer. Dit is vreeslik droog op die oomblik. Die diere eet so lekker dat hulle nie eens agterkom as ek wegry nie”, lag hy.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button