Local sportSport

Goue glorie vir dié karateka

Waneer sy nie haar karate-opponente uitoorlê met haar uitstekende vaardighede en vernuf nie, is Nalita Gouveia se voete stewig op die aarde geanker.

MOKOPANE -Dié talentvolle sportster en afrigter van die Kimura Shukokai Karate Klub het Suid-Afrika in Julie in Swede verteenwoordig en ‘n goue en silwer medalje huistoe gebring.

Onder die bekwame leiding van haar afrigter, Leon van Veenhuizen, presteer Nalita uitstekend.

Sy het tydens die Limpopo Karatekampioenskappe vroeër vanjaar in Polokwane, waarby Botswana en Zimbabwe ook betrokke was, twee goue medaljes verower.

Nalita Gouveia wys haar vernuf.

Daarna wen sy wéér twee goue medaljes by die Suid Afrikaanse Karatekampioenskappe wat by die Universiteit van Witwatersrand in Johannesburg gehou is.

Met dié eerste plekke het sy gekwalifiseer om die land vanaf 15 tot 23 Junie in Stockholm, Swede, tydens die Kimura Shukokai Internasionale (KSI) Wêreldtoernooi te verteenwoordig.

Tydens dié tawwe kompetisie het sy ‘n goue medalje vir ‘kumite’ (vrygeveg) behaal en ook ‘n silwer medalje vir kata.

Nalita sê ‘n mens moet altyd jou voete plat op die aarde hou en nederig deelneem.

“Swede is ‘n pragtige land en hul mense het my verbaas met hul vriendelikheid en nuuskierigheid oor my herkoms. Hulle is baie spontaan.”

Tydens die kompetisie het 20 lande se karatekas kragte gemeet en vir Nalita was al die lande se deelnemers ewe sterk maar Engeland, Switserland, Swede en Duitsland se deelnemers het tog uitgestaan.

Nalita het reeds in 1996 haar karateloopbaan begin en in 2000 haar junior swart gordel verower.

Sy het in 2003 haar eerste ‘dan’ plato ontvang en in 2012 gradeer na tweede ‘dan.’ Vandaar werk sy daaraan om haar volle potensiaal te bereik en die sportleer tot bo te klim.

“Deur harde werk en geloof kan ‘n mens sukses behaal.”

Sy bedank elke persoon en besigheid wat haar geborg het om aan die toernooi te kon deelneem en in haar geglo het.

Van Veenhuizen sê almal by die klub en in die dorp is trots op Nalita se goeie prestasie. Sy is voorwaar ‘n uitstekende sportvrou en ambassadeur vir die dorp en land.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button