Local NewsNews

Ewe tuis op die kansel of in klas

Van dominee tot onderwyser - nooit het Chantel Francis gedink sy sal in die onderwys eindig en voor 'n klas vol leerders staan nie, maar nou geniet sy die nuwe uitdaging terdeë.

MOKOPANE – Chantel het grootgeword in Groblersdal waar sy aan die Hoërskool Ben Viljoen gematrikuleer het. Daarna het sy teologie aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Na haar studies het sy Limpopo deurkruis en was sy by verskillende gemeentes betrokke voor sy in Mokopane kom nesskrop het.

“Ek en my man, het in 2014 na Mokopane verhuis en ek het ‘n kontrakpos by die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk aanvaar. Ds. Bernard Rademeyer van die N.G. Moedergemeente het in 2015 afgetree en die gemeente het my toe ‘n kontrakpos aangebied wat ek aanvaar het. Die Moedergemeente en N.G. Oosgemeente het verlede jaar saamgesmelt. Ek het toe tot Junie vanjaar by die nuwe gemeente nou bekend as N.G. Kerk Piet Potgietersrust gepreek.”

Chantel vertel die bediening het ook maar sy uitdagings maar ek voel vroue het ‘n aanvoeling vir die werk.

“In al die ringe waar ek gedien het, was ek die enigste vrou. Ek was baie goed behandel deur my kollegas en ek dink hulle het waardeer dat daar ‘n vrou se mening betrokke was.”

Chantel sê sedert haar uittrede mis sy die weeklikse preke van die kansel af die meeste en haar besoeke aan die bejaardes en ouetehuis.

“Ek help gemeentes nog hier en daar uit en doen nog doopgeleenthede en troues.”

Sedert haar uittrede is Chantel nou tuis voor die skoolbanke by die Mokopane English Primary School. Sy vertel sy het van 2015 tot 2018 by verskeie skole uitgehelp en was ook berader by Laerskool Krugerpark waar sy ook betrokke was by remediërende onderwys (RO). “Ek het nie onderwys studeer nie, maar die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SARO) het my toelating gegee om onderwys te gee op grond van my kwalifikasies. Ek begin volgende jaar vir my nagraadse-onderwysgraad te studeer.”

Chantel sê sy put tog genot uit die klasgee. “Ek is eintlik maar my lewe lank lief vir kinders.

“Ek het dit seker by my ouma geerf. Sy was ook ‘n onderwyseres en het ook RO aangebied. Ek het op hoërskool altyd saam met haar gegaan en haar gehelp.”

Hoewel dit nie dieselfde is as om op die preekstoel te staan in die bediening nie, geniet sy haar werk as onderwyseres.

“Ek leer die kinders ken op ‘n meer persoonlike vlak, soos waar kom hy/sy vandaan, hulle kultuur en van hulle huise, so word daar ‘n hegter band gevorm tussen onderwyser en kind. Onderwys en bediening loop hand-aan-hand en albei is in my bloed. ‘n Mens het nie woorde nodig om Jesus te verkondig nie. Deur jou dade leef jy die ware sin van Sy woord uit.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button