Local NewsNews

Kanker vat háár nie vas

Kotie Loots (51) is verlede jaar in Augustus met borskanker gediagnoseer en na talle chemoterapie en bestralingsessies is sy nou in remissie.

MOKOPANE – Kotie is ‘n kankervegter wat weier dat dié siekte haar onderkry. Sy deel haar omgee vir ander kankerlyers graag en dit is veral die kinders by die Kansa TLC Pediatriese Onkologie Sentrum in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal in Polokwane wat haar na aan die hart lê.

“Ek het op 30 Augustus verlede jaar vir ‘n mammogram gegaan. Daar is dadelik opgetel dat ek borskanker het. Ek was vreeslik hartseer. ‘n Vrou wil mos maar mooi wees en dinge soos hare wat uitval was vir my in die begin baie erg. Gelukkig het hul nie my bors verwyder nie, maar net ‘n knop.”

Sy sê dit is toe dat sy besluit het om die Here te vra om ‘n instrument vir Hom te wees.

“Dit is net deur Sy krag dat ek genees is. Ek is baie gelukkig.”

Kotie en haar vriendinne Linda Venter, Rosie Redelinghuys, Ronel Holtzhausen, Susan Snyder en Zelinda Koekemoer het onlangs besluit om die kinderkankerpasiënte by die TLC sentrum te bederf met selfgebreide sokkies en mussies. Al die materiaal kom uit hul eie sakke, asook skenkings vanuit die Waterberg Christen Sentrum.

“Vandat ek chemo begin het, het ek met die gedagte geloop dat ek iets vir ander pasiënte wil doen. ‘n Chemosessie duur ‘n paar uur en so het ek altyd dan gesit en juwele maak met kraletjies. Ek het dit hoofsaaklik vir vrouekankerpasiënte uitgedeel wat ook saam my chemo kry en as daar net ‘n man was, het ek dit vir hom gegee om vir sy vrou te vat.

“Tydens sulke sessies het ons die pasiënte ook betrek en saam hul gebid. Zirk Jansen, my onkoloog was altyd dankbaar vir ons hulp met die pasiënte.

“Ek het puik vriendinne wat elke chemosessie saam my Polokwane toe gery het om my te ondersteun. Om ons tyd verby te kon kry by my dokter se spreekkamer het ons kreatiewe goed gemaak, insluitend skoenlappers.

“‘n Verteenwoordig van ‘n hospitaal het ons genader om vir 40 minderbevoorregte kinders wat op een slag by die TLC huis chemo kry, te wys hoe om die skoenlappers te maak en so ook hul dag op te helder.”

Sy vertel dat die boodskap agter ‘n skoenlapper is dat kanker soos ‘n lelike kokon is. Tussendeur die behandeling is dit ‘n gestoei en veg, maar as jy daar uitkom is jy ‘n pragtige skoenlapper.

Kotie en haar vriendinne het ook agtergekom die kinders se voete kry in die winter koud.

“Ons het toe begin om een keer ‘n maand sowat 40 pare sokkies en mussies te brei om aan die kinders uit te deel. Mandeladag was ook toevallig ‘n ideale dag waarop ons die breiwerk kon uitdeel. Dit is soms moeilik want daar is van baba’s tot 17 jariges. Die groottes van die voete verskil en ‘n mens probeer maar dat almal ‘n paar sokkies kry.

“Ons deel ook vir die verpleegsters of ouers van dié gebrei uit. Ons het ook toestemming om die kinders se voete met Aqueousroom te smeer. Hulle geniet dit so baie. Ons bid en sing saam en so skep ‘n mens weer vir die kleingoed moed.”

Benewens hulle omgeeharte maak Kotie en haar vriendinne ook bere vir die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis in Modimolle.

Kotie sê: “Kanker is eintlik vir my die grootste seën. Dit het my op hierdie insiggewende reis gevat.”

Indien enigiemand breiwerk wil skenk, kan hul dit by die Mokopane se Kansahuis in Geyserstraat los. Vir meer inligting kontak Kotie by 082 795 0750.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button