Local NewsNews

Little Miracles: Jou kleinding in 4D

Swanger vroue kry nou vir die eerste keer kans om hulle ongebore babas hier op die dorp duidelik met 'n sonar te sien.

MOKOPANE – Little Miracles, ‘n onderneming wat in die neem van 2D, 3D en 4D sonars spesialiseer, maak dit nou moontlik vir swanger vroue om nie meer na Polokwane te reis nie.

Carmen Hawkins, Eienaar en radiografis van Little Miracles, sê die sonars kan enigetyd gedurende die swangeskap geneem word.

“Die baba moet egter saamwerk en in die regte posisie lê vir die beste resultate. Die hoeveelheid vrugwater speel ook n baie belangrike rol ,want dit is die venster waardeur die ultraklank gaan om ‘n mooi beeld te verseker. Wanneer die baba nie saamwerk tydens jou afspraak nie, sal ons ‘n ander tyd reël vir ‘n gratis sessie.”

Die beste tyd om ‘n 4D sonar te neem is gedurende 22 en 30 weke. “Sonars wat later in die swangerskap geneem word, wys mooi gesiguitdrukking omdat die baba nou ‘n vetlagie ontwikkel en al hoe meer soos ‘n pasgebore baba lyk.”

Hawkins het in Mokopane groot geword en in 2002 aan Hoërskool Piet Potgieter gematrikuleer, waarna sy radiografie aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het. Sy het ook ‘n mammogramkursus aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie voltooi.

“Ek het ‘n betrekking in Polokwane aanvaar waar ek vir tien jaar gewerk het. Na die geboorte van my tweede seun so vyf maande gelede, het ek besluit dit is tyd dat ek nader aan my huis moet werk. Little Miracles bied nou ‘n sonardiens hier op die dorp aan swanger vroue.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button