Bosveld NewsNews

Vyf inbrake by oues

Die bejaarde inwoners van Soetdoring vrees vir hulle lewe na vyf inbrake verlede week.

MOKOPANE – Yolande Coetzee, DA raadslid, sê na die vyf inbrake is die veiligheid van die bejaardes ‘n groot probleem.

“Hoeveel keer moet ‘n mens die saak nog met die Mogalakwena Munisipaliteit opneem?

“Na die moord op tannie Johanna Van Rooyen (81) verlede jaar Oktober het ek die Burgemeester, Andrina Matsemela, self gaan sien om die veiligheidkwessie by die eenhede van Herfsland-Soetdoring te bespreek.

Matsemela het belowe sy sal dadelik aandag aan die veiligheid en sekuriteit van die bejaardes gee.

“Dit is nou al agt maande later en nog niks is gedoen nie.”

Volgens Coetzee het sy ook al e-posse geskryf en verskeie vergaderings gehad met die veiligheidsdepartement en die munisipale bestuurder oor die veiligheid en versoeke om die bosse agter Soetdoring oop te kap en skoon te maak.

“Die booswigte klim oor die mure. Die lemmetjiesdraad wat verlede jaar deur goedhartige skenkers aangebring is, is al so afgetrek en getrap dit sal weer gespan moet word en ook versterkings moet kry.”

Kol. Freddie Mohale van die Mokopane Polisie, sê die polisie het self al verskeie versoeke aan die munisipaliteit gerig om die area te ontbos.

“Daar skuil rowers, dwelmhandelaars, dwelmverbruikers en kwaaddoeners in die bosse.”

Mohale sê dit is belangrik om voorvalle by die polisie aan te meld. “Dit is al manier hoe ons kan sien waar die probleemgebiede is en waar ons meer patrollies moet ry.

“As die verdagtes sien ons is baie bedrywig in ‘n sekere gebied en daar is patrollies sal hulle nie sommer daar inbreek nie.”

Bosveld het teen druktyd nog geen terugvoer van die kommunikasiehoof van Mogalakwena Munisipaliteit, Malesela Selokela, ontvang nie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button