POLOKWANE – Die projek is aangepak nadat die skoolleiers van 2016 en 2017 vir die skool geld as geskenk ingesamel het om ‘n nuwe nessie vir die personeel te bou.
Oosskool se Skoolhoof, Gideon Pelzer, vertel daar word met reg gesê dat wanneer jy van jou besittings gee, jy maar weinig gee.
“Dit is slegs wanneer jy van jouself gee dat jy werklik gee. Daar is besonderse mense in ons gemeenskap wat bereid was om meer as net van hulle besittings te gee deur van hulself ook te gee. Sonder hierdie onbaatsigtige bydrae sou hierdie droom en hartsbegeerte nooit gestalte kon kry nie.”
Bouwerk aan die personeelkamer het reeds aan die einde van verlede jaar begin, en op Dinsdagaand, 19 Junie, het die skool ‘n geselligheid gehou om dié mylpaal te vier.
Rolspelers, insluitend die skool se beheerliggaam, hoofleiers van 2016 en 2017, Rokkon Development en die Moolmangroep is genooi vir die geleentheid.
“Hierdie projek is ons sukses. Dit is ‘n nalatenskap vir die generasies wat nog deur hierdie pragskool moet stap. Ons opregte dank en waardering vir die rolspelers,” het Pelzer opgemerk.
Schalk Dreyer, die skool se Beheerliggaamvoorsitter was ook teenwoordig, asook Werner Nel en Nico Venter van Rokkon Development, Peter Pratt van die Moolmangroep, Karen Lehman, wat verantwoordelik was vir die dekor, en die hoofleiers van die 2016 en 2017 se gr.7-graadgroepe asook hul ouers.