Local NewsNews

‘Pa’ gesels oor sy vierpootkinders

Vandag is Vadersdag en regoor die land word daar spesiale etes voorberei en geskenke uitgedeel om waardering vir pappas te wys.

POLOKWANE – Nie almal is geseën met laggende kinders wie se oë blink as pappa van die werk af kom nie, party mans het dierekinders wat hulle met swaaiende sterte en nat soene inwag elke keer wat hy by die huis kom.

Een so ‘n pa is Juan Vos wat saam met sy meisie, Inekhe Prons, twee hondekinders, Ashley en Zeus, het.

Lees ook: Dis ‘n voorreg om ‘n goeie pa te hê

“Ons het nie regtig besluit om ‘n pekingese hondjie te kry nie, ons wou eintlik ‘n bokser hê. Inekhe het een aand foto’s van Scottish terriers gekruis met jack russels gesien en wou graag een hê. Net die volgende dag was ons saam met vriende en hier vra een van ons vriende vir haar of sy ‘n hondjie soek. Ons het nie geweet watter soort hond dit hy van gepraat het nie, en toe ons haar gaan haal was ons onmiddellik verlief op haar,” vertel Juan, terwyl hy Ashley se ore vryf.

Juan Vos en Ashley deel soentjies.

Hy lag toe hy vertel hoe hulle op haar naam besluit het. “Ons het geslaap en een nag word ek skielik wakker na ‘n droom en sê vir Inekhe die naam Ashley. Sy het eers gedink ek praat van ‘n ander meisie, maar ek het aan haar verduidelik dat dit ons hond se naam moet wees.”

Ashley is nou ongeveer nege maande oud en het dié ‘ouerpaar’ al baie grys hare gegee. Sy is, na verskeie besoeke aan die veearts en medikasie, met ‘n tiepe van miet gediagnoseer wat sy by haar ma geërf het. “Dit het ons baie geld uit die sak gejaag en haar maag was oortrek met die uitslag, ons kon glad nie daaraan vat nie.”

Juan Vos en Zeus.

Kort oor Ashley se gesondheidsprobleme het ‘n jack russelreun met die naam Zeus, wat nou 13 weke oud is, by die gesin aangesluit en slegs ‘n week nadat die kegelvorm van Ashley se nek afgekom het, is hy in die hospitaal opgeneem met wat veeartse eers vermoed het breinskade was. Kort na sy opname het die dokters hom met katgriep gediagnoseer en was die ouerpaar amper genoop om moeilike besluite te neem.

“Toe ons die middag by die veearts kom het hulle vir ons gesê ons moet agtertoe gaan na waar hy is. Ons het gedink ons gaan hom nou moet groet, maar toe ons daar kom, toe sit hy regop. Die veearts het ons toe meegedeel dat Zeus darm net derminfeksie gehad het.”

Juan vertel dat hy nie ‘n gunsteling tussen die twee kan uitsonder nie en verduidelik dat elkeen hul eie persoonlikheid het. “Ashley is ‘n vryer terwyl Zeus nog alles opvreet maar hy is wel ‘n lekker slaapmaat. Hulle is baie lief vir mekaar en speel graag saam. Zeus geniet dit om met Ashley se stert te speel. Ashley is baie soos ek, gereed om uit te gaan en met ‘n bal te gaan speel. Zeus verkies om iewers in die huis opgekrul te lê.”

Die twee het ook elkeen ‘n bynaam en Juan vertel dat Ash-Bash en Zeus the Juice onmiddelik diep in sy hart gekruip het.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button