Local NewsNews

Oefenbederf vir DBV se diere

Die DBV Polokwane doen soveel as wat hulle kan om die honde en katte wat in hul sorg is, te versorg totdat hulle deur liefdevolle mense aangeneem word.

POLOKWANE – Omdat die DBV ‘n organisasie sonder winsbejag is, hou hulle gereëld inisiatiewe wat deur die komitee geloods word om geld in te samel wat vir instandhoudingswerk en dieresorg benut word.

Komiteevoorsitter, Tania le Roux, het besluit om ‘n behendigheidsbaan vir die honde te bou. Daarvoor het sy skenkers nodig gehad en een gesin, wat te hore gekom het van haar idee, het besluit om in te spring en haar te help.

Michael Promnitz, eienaar van Woodman, vertel dat hy en sy vrou, Lanzette, beide lief is vir diere, veral honde.

“Ons het gehoor van die DBV se versoek en het besluit om hulle te help,” vertel hy waar hy besig is om ‘n springhek te bou. “Ek bou vir hulle die hek met vier verskillende vlakke, ‘n balk vir hardloop, ‘n wig-wag-balanseerbalk en gimnastiekbalk. Ook bou ek vir hulle water- en kosbakke.”

Hy vertel dat hy beplan om dié projek teen die einde van die maand te voltooi.

“Ek geniet dit baie om houtwerk te doen en bou items van prente af wat ek op die internet kry. Dit is vir my lekker om ‘n bydrae tot die diere, veral die honde, te maak en dit maak dit besonder spesiaal vir my.”

Tania is baie opgewonde vir die baan om gereed te wees. “Ons beoog om nie net die honde in die DBV se sorg hier te laat oefen nie, maar ook honde van die publiek. Honde wat in die hokke bly ly dikwels aan spanning en die baan sal help om dié spanning te voorkom en te verminder.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button