Local NewsNews

Bly so siektebestand dié winter, hoor VLU

Met die winter wat sy koue vingers uitsteek, het die vroue by die Vroue Landbou Unie (VLU) se Finessa Aandtak onlangs meer te wete gekom oor hoe om gesond te bly in die koue maande.

POLOKWANE – Gershwin van Tonder, een van die lede, het tydens die maandelikse vergadering gesonde leefstylwenke gedeel.

“Siekte is ’n ongerief en ’n uitgawe, om die minste te sê. Jy voel nie net sleg wanneer jy siek is nie, maar jy sal dalk ook nie werk of skool toe kan gaan, geld kan verdien of vir jou gesin kan sorg nie. Miskien sal jy selfs iemand nodig hê om jou te versorg en sal jy vir duur medisyne en behandeling moet betaal.”
Sy vertel dat party siektes onvermydelik is, maar dat daar ook baie is wat jy kan doen om so lank as moontlik gesond te bly of selfs te verhoed dat jy siek word. “Handhaaf goeie higiëne. Was jou hande gereeld en moenie jou neus en oë vryf as jou hande met kieme besmet is nie.”

Hoe jy jou hande moet was:
• Maak jou hande nat in skoon, lopende water en smeer seep aan.
• Vryf jou hande totdat skuim vorm en moenie vergeet om jou naels, jou duime, die agterkant van jou hande en tussen jou vingers skoon te maak nie.
• Vryf jou hande ten minste 20 sekondes lank.
• Spoel dit in skoon, lopende water af.
• Maak dit met ’n skoon handdoek of papierhanddoek droog.

‘n Tweede manier is om skoon water te gebruik.

“As water nie van ’n veilige bron af kom of reg geberg word nie, kan dit parasietbesmetting veroorsaak, asook cholera, lewensgevaarlike diaree, ingewandskoors, hepatitis en ander infeksies.”

Let op wat jy eet, vertel sy van die derde manier om gesond te bly.

“Dit is nie moontlik om goeie gesondheid te geniet sonder goeie voeding nie, en goeie voeding behels ’n gesonde, gebalanseerde dieet. Jy moet dalk let op hoeveel sout, vet en suiker jy inneem, en jy moet nie ooreet nie. Sluit vrugte en groente by jou dieet in, en eet ’n verskeidenheid voedselsoorte.”

Nog ‘n manier om die siektes af te weer, is deur aktief te bly.

“Ongeag hou oud jy is, jy het gereelde oefening nodig om gesond te bly.” Om aktief te bly, kan jou help om goed te slaap en ook die risiko te verminder om aan depressie te lei. Die soort oefening wat reg is vir jou, hang af van jou ouderdom en gesondheid. Daarom is dit verstandig om ’n dokter te raadpleeg voordat jy met enige nuwe oefenprogram begin. Kies iets wat vir jou pret is.

Laastens raai sy genoeg slaap aan.

“Die hoeveelheid slaap wat ’n mens nodig het, verskil van persoon tot persoon. Te min slaap word verbind met vetsug, depressie, hartsiekte, diabetes en ongelukke. Dit gee ons beslis goeie rede om genoeg rus te probeer kry.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button