Bosveld SportSport

Silwer by Statebondspele vir Mokopane se Hanru

Hanru (28) het pas teruggekeer vanaf Queensland, Australië waar hy drie stoeigevegte gewen en toe in die finaal van die vrystylafdeling (74kg) vasgeval het teen Sushil Kumar van Indië.

MOKOPANE – Sy ondervinding van die afgelope 25 jaar op verskeie stoeimatte, asook uitstekende dissipline het gesorg dat hy ‘n silwermedalje by die Statebondspele kon wen, sê Hanru Botha, top stoeier en eienaar van die Brave Stoeiklub op Mokopane.

Lees ook: Hanru Botha palm silwer by Statebondspele in

Hy gee alle eer aan sy pa, Rudi met wie se jarelange ondersteuning en hulp hy nie die stoeileer tot bo sou kon klim nie. “Hy het altyd die groter prentjie gesien en ek is vandag dankbaar. Ons het ‘n hegte verhouding, hy is nie net my pa nie, maar ook my vriend en afrigter.”

Glorie vir Hanru Botha nadat hy ‘n silwer medalje by die Statebondspele verower het.

Hanru sê daar is nie tyd vir stilsit nie. “Ek het vanoggend hier aangekom en werk klaar aan my ander droom. Dit is om my stoeiklub tot nuwe hoogtes aan te voer.”

Oor ‘n koppie koffie gesels hy opgewonde en vertel dit is die eerste keer dat hy aan die Statebondspele deelgeneem het en hy was goed voorbereid. “Dit verg harde werk en bowenal dissipline. Dit beteken ook jy kan nie kanse waag en byvoorbeeld voor ‘n geveg op ‘n motorfiets klim nie, want die kans is daar dat jy jouself kan beseer.”

Hy vertel hy en Kumar, ‘n wêreldkampioen, was nie in dieselfde poel ingedeel nie, anders sou hy heel moontlik derde geëindig het met ‘n brons medalje. “Ek het my drie gevegte in die boonste poel gewen en hy syne in die onderse poel. Anders as ons word stoeiers soos Kumar groot met ‘n vak soos stoei op skool daarom is hy so goed.”

Hanru Botha saam met die Minister van Sport, Thokozile Xasa by O.R. Tambo Lughawe.

Hy sê die lande se verskillende sportspanne is aan die Gouekus op die hande gedra. In die groot eetsaal van die ‘village’ waar die sportsterre tuis was, het hy kans gehad om skouers te skuur met ander bekendes soos die atleet Caster Semenya en swemmer Chad le Clos. Hy het veral ‘n groot bewondering vir Le Clos.

Hanru vat ‘n sluk van sy koffie en vertel dan sy stoeiloopbaan het op driejarige ouderdom begin. Sy oefenmaat vir soveel jare was sy tweelingbroer, Pierre. Met pa, Rudi wat afrig, aanmoedig en raad gee is dit te verstane dat die twee broers verskeie medaljes en titels nie net op die stoeimat nie, maar ook in Jiu jitsu en boks gewen het.

“Ons het ook rugby en krieket op laerskool in Mbombela (Nelspruit) gespeel, maar stoei het altyd voorkeur geniet. As leerders aan die Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong was daar nie veel tyd vir ander sport of sosiale bedrywighede soos sokkiejolle nie.”

Dit was Hanru Botha se droom om ‘n medalje huis toe te bring.

Deesdae is dit die jongelinge wat by sy stoeiklub opdaag, wat sy oë laat blink. “Hulle kom leer hier en kruip terselfdertyd in my hart in. Elkeen het ‘n eie persoonlikheid en ek hanteer hulle daarvolgens. Ek leer hulle nie net die tegnieke nie, maar ook hoe belangrik dissipline is.”

Daar is ook die Downsindroomlyers wat op Donderdae die klub besoek, wat sy hartsnare raak. Hanru sê hy leef, eet en slaap stoei. “Ek het kleintyd opgekyk na helde en vandag is ek ‘n rolmodel vir baie jong mense.”

Na ‘n dag se afrigting en oefen is dit egter op ‘n plaas buite Mookgophong waar hy rustig raak tussen ‘n klomp Nguni beeste. “Ek is ‘n plaasjapie wat die natuur geniet en sal nie in die stad aard nie.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button