Bosveld SportSport

Rugby kraai hier koning

Die bekende jaarlikse Mauritz Hansen Rugbyweek het Dinsdag met 'n gejuig op die rugbyveld van Hoërskool Hans Strijdom afgeskop waarna 'n openingseremonie laatmiddag gehou is met die 82 rugby-spanne wat vanjaar meeding.

MOKOPANE -Tydens die opening is elke skool wat deelneem ‘n kans gegun om op die baan te loop waarna almal op die veld gaan sit het vir die openingseremonie.

Lees ook: Hansieskouspel

Hoërskool Hans Strijdom se uittredende Skoolhoof, George Klopper, Burgemeester van Modimolle-Mookgophong-Vaalwater Munisipaliteit, Marlene van Staden, Hoërskool Hans Strijdom se Beheerliggaamvoorsitter, Johan de Beer asook die gasspreker, Lyndon Ferns het die spelers sterkte toe gewens en aangemoedig om hulle beste tydens die week se wedstryde te gee.

Rudolf de Vos (organiseerder), Johan de Beer (Beheerliggaamvoorsitter), Ds. Jan Claassen, Herculus Louw, Marlene van Staden (Burgemeester van Modimolle-Mookghopong-Vaalwater), George Klopper (uittredende Skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom) en Lyndon Ferns (gasspreker) by die openingseremonie.

Ferns, wat ‘n Olimpiese swem goue medaljewenner is, het vertel wat dit verg om ‘n goue medalje te verower en die beste in die wêreld te wees. “Die resep vir sukses bly dieselfde. Ek glo dat harde werk talent kan wen, wanneer talent nie hard genoeg kan werk nie. Dit is ook ‘n les wat ek in my lewe geleer het. ‘n Regte kampioen vermy dwelms, alkohol en steroïde.

“Almal van julle word daaraan blootgestel, so ook ek. Ek was sterk genoeg om dit te kan vermy. Onthou daar is nie kort paaie vir sukses nie. Mag God julle seën tydens die toernooi en ook op elke roete en pad van die lewe wat julle vorentoe vat.”

Die eersterugbyspan van Hoërskool Hans Strijdom is slaggereed vir die openingswedstryd.

Dit is ook vanjaar Skoolhoof, George Klopper se laaste jaar voordat hy uittree. Hy het ‘n trofee ontvang vir sy betrokkenheid van 21 jaar by die rugbyweek. Klopper sê dit is en was nog altyd ‘n voorreg vir hom om deel te wees van so groot byeenkoms. Hy was vyf jaar lank deel van Hoërskool Pietersburg se onderwyspersoneel en vir 16 jaar Skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom.

Na die afloop van die seremonie het Hoërskool Hans Strijdom se eerstespan vir Hoërskool Erasmus van Bronkhorstspruit met ‘n telling van 26-3 geklop in die openingswedstryd.

Douw Oosthuizen, rugbyafrigter van HPP se o/14-rugbyspan sê Piet Pot het vir ‘n paar jaar nie aan die toernooi deelgeneem nie. “Ons sou vanjaar Kaap toe getoer het, maar dit het te duur uitgewerk. Die Mauritz Hansen Rugbyweek is ‘n goeie toernooi en dit is ook nader aan ons. Ek glo dit sal goed gaan met al vyf ons spanne.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button