Local NewsNews

DBV swaai stert na insameling

'n Hondestertswaaidag is by die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging gehou om die DBV se geldkas aan te vul.

MOKOPANE – Elke hond kry sy dag, lui die gesegde en dit was inderdaad so toe talle opgewonde brakke verlede Saterdag gebad, geskeer of ‘n mikroskyfie gekry het.

‘n Hondestertswaaidag is by die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging gehou om die DBV se geldkas aan te vul. So tussen die hondebederf kon eienaars klets, na al die snuisterye kyk en wys hulle gee om dat die DBV se deure oopbly. Marcelle Maritz, Bestuurder van die DBV, sê die dag was ‘n reuse sukses en daar stoom nog steeds skenkings in.

“Altesaam 12 honde-eienaars het hulle honde gebring vir Identipet mikroskyfie-inplantings en sekergemaak dat hulle honde vinnig geïdentifiseer kan word indien hulle verlore raak. Shake a Paw het agt honde gewas en geskeer en ons het 1.2 ton kos ontvang. Die kontantskenkings staan nou amper op R14 000 en dit kom nog steeds in waarvoor ek baie dankbaar is.”

Maritz sê die gemeenskap van Mokopane het weereens gewys as daar nood is en jy vra sal hulle alles in hulle vermoë doen om te help. “Ek wil my span bedank vir al hulle harde werk en ‘n ieder en elk wat ‘n bydrae gemaak het tot die sukses van die dag. My beker loop oor. Baie dankie ook aan Casa Feliz vir die stoele, Ismails Mica vir die borg van die springkasteel en Impie Holtzhausen van Ipudule Construction vir die mobiele toilette. Dit word baie waardeer.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button