Local NewsNewsUpdate

Johan Emmenes sterk goed aan na spoegkobra hom pik

Johan Emmenes (8) wat verlede Dinsdag deur 'n Mosambiekse spoegkobra gepik is in sy bed herstel goed en het met sielkundige behandeling begin.

MOKOPANE – Hestia Emmenes, Johan se ma het Dinsdagmiddag net na Johan uit die teater in Midstream, Pretoria gekom het gesê: “Die pediater is tevrede met Johan se herstelproses en sy infeksietelling het van 10 na 0,9 geval. Johan se arm het geen infeksie nie en die sjirurg het die sny onder die arm en die drie snye bo die hand toegewerk, behalwe die sny waar die slangbyt is. Die dokter wil dit nog monitor.” Hestia sê hulle het Dinsdag ook met sielkundige behandeling begin en dit vorder goed. “Johan kan nie wag om huistoe te gaan nie en sê hy mis sy maats baie.”


16 Maart

MOKOPANE –  Johan Emmenes (8) wat Dinsdagaand deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik is, se herstelproses is ‘wonderbaarlik goed’.

Hestia, Johan se ma, sê Johan is Donderdagoggend na Midstream in Pretoria oorgeplaas waar hy ‘n spesialis gesien het.

Sy sê sy en Johan se pa, Marthinus, was saam tydens die ondersoek en die spesialis het vir hulle baie goeie nuus gehad.

“Daar is geen dooie weefsel of kwaadaardigheid nie en hy gaan ook nie ‘n veloorplanting nodig nie. Die sjirurg het net die bytplek uitgesny,” sê sy.

Hestia sê die spesialis wil Johan nog in die hospital hou vir observasie om seker te maak dat die bytplek nie infeksie ontwikkel nie.

“Ons bedank almal vir hulle gebede, dié wonderwerk is aan julle almal te danke.”


Woensdag 14 Maart 2018 – Mokopane seun (8) stabiel na slang hom pik

MOKOPANE – Johan Emmenes (8), ‘n leerder van Laerskool Krugerpark, sterk tans in die Mediclinic Tzaneen aan nadat hy Dinsdagaand deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik is.

Hestia, Johan se ma, het Woensdagmiddag net na 13:00 vanuit die hospitaal aan Bosveld vertel dat Johan sopas wakker geword het.

Hestia vertel Johan het Dinsdag laatmiddag op die bed gaan lê en aan die slaap geraak. “Ek het later die aand by hom gaan inloer en gesien hy slaap nog.

“Ek het besluit om hom maar te los en sou hom vroeg Woensdagoggend wakker maak om voor skool te bad.”

Johan se pa Marthinus het 21:00 weer ‘n draai gaan maak en gesien hy slaap nog. Hestia sê sy het 22:00 wakker geword van ‘n plof geluid uit Johan se kamer.

“Ek het gedink hy het uit die bed geval en Marthinus het gaan kyk. Hy het vir Johan by die kamerdeur gekry en die Mosambiekse spoegkobra wat regop op die bed staan gesien. Johan het vir Marthinus gesê die slang het hom gepik en Marthinus het die slang daarna doodgeskiet.”

Die Mosambiekse spoegkobra wat Johan Emmenes gepik het.

Hestia vertel dit was ‘n geskukkel om ‘n beskikbare intensiewe-sorgeenheid te kry.

“Al wat beskikbaar was, was die eenheid in Mediclinic Tzaneen. Ek en Marthinus het dadelik met Johan daarheen gehaas. Johan was in erge pyn en by die hospitaal het hulle 10 ampules van 50 ml teengif vir Johan ingegee en later het hy nog ses gekry.”

Die dokter het vanoggend Johan se arm en hand oopgemaak om te dreineer en die drukking te verlig. “Die dokter is tevrede met Johan se vordering en sê sy spiere is nie beskadig nie. Ons is dankbaar en met fisioterapie behoort hy weer volle gebruik van sy hand te hê.”

Hestia sê sy wil net elke ouer waarsku. “Gaan lees oor slangbyte en raak vertroud met wat om in noodgevalle te doen. Dit is nou die tyd wat slange warmer plekke soek.

“Maak jou kind se bed oop voor hy inklim, skud skoene uit voor jy dit aantrek. Mosambiekse spoegkobras is baie aktief tussen Januarie en Mei weens die warm reënweer.”

Hestia sê Johan word Donderdag oorgeplaas na Midstream in Pretoria dan sal ‘n sjirurg begin met weefselverwydering, rekonstruksie en veloorplanting.

“My kind is so dapper deur die hele beproewing. Hy het kalm gebly. Daar wag nog ‘n lang herstel-proses vir Johan. Boodskappe van ondersteuning stroom in. Ek en Marthinus wil die gemeenskap bedank vir al die boodskappe, oproepe en gebede.

“Spesiaal dankie ook aan Laerskool Krugerpark en Johan se maats en juffrou, almal se gebede dra ons deur die moeilike tyd.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button