Local NewsNews

Meisie (2) sterf, ma in hospitaal na ongeluk

Baie trane is al gestort oor die pragtige blou-oog blondekopmeisie wat vele harte gesteel het, Anna-Bella Mulder, se skielike dood in 'n motorongeluk Sondagmiddag.

POLOKWANE – Haar ouma, Michelle Venter, verduidelik dat Anna-Bella waarlik ‘n “engelkind” was wie se vriendelike glimlag en oulike sêgoed baie harte verbly het.

“Ek is in ‘n rolstoel en Bella het altyd agterop geklim en kar-geluide gemaak, dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie en is ‘n kosbare herinnering wat ek ewig sal koester.”

Anna-Bella se ma, Lee-Ann Mulder, was ook in die ongeluk op die Silikonpad beseer nadat haar vriend beheer oor die voertuig verloor het en dit gerol het.

Sy is in die hospitaal met erge beserings aan haar been en skouer en moet verskeie operasies ondergaan.

Volgens Venter is haar dogter in baie pyn en ongelooflik hartseer oor haar dogter se dood.

“Sy was vreeslik lief vir Anna-Bella en sou enige iets doen om haar gelukkig te maak. Haar dood is ‘n groot skok vir ons almal.”

Anna-Bella se pa, Theuns, meen woorde kan nie die pyn, verlies en skok beskryf nie.

“Sy was my prinses en het altyd in haar prinsesrokkies baljaar. Sy was waarlik ‘n sonstraal in almal se lewens en het altyd met die slimste sêgoed vorendag gekom. Ek sal haar vir die res van my lewe elke dag mis.”

Vanweë Lee-Ann se ernstige toestand is begrafnisreëlings nog nie getref nie.

“Anna-Bella los ‘n groot leemte in ons harte en ek dink nie ‘n mens sal ooit oor dit kan kom nie want die verlange sal vir altyd brand,” sluit haar ouma af.

Anna-Bella word oorleef deur haar ouers, asook familie.

reporter03@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button