NewsSchools

Iemand wat omgee

Leerders verbonde aan die Hoërskool Pietersburg is gelukkig om so iemand in die persoon van Juanita Marx te hê, 'n gewalifiseerde berader met 'n passie vir kinders.

POLOKWANE – Elkeen soek een of ander tyd in sy lewe iemand wat omgee.

Leerders verbonde aan die Hoërskool Pietersburg is gelukkig om so iemand in die persoon van Juanita Marx te hê, ‘n gewalifiseerde berader met ‘n passie vir kinders.

“Veral díe wat voel hulle word nie raakgesien nie, of goed presteer nie. Ons is almal mens, ons wil geag word, ongeag… Ek sien die wese raak, die mens wat God geskep het,” vertel sy. Juanita is self die middelste van drie susters, en het in Potchefstroom grootgeword, waar haar ouers nou nog woon.

“My ouers was baie liefdevolle mense, en ek dink dis hoekom ek so maklik liefde en omgee kan uitleef,” sê die getroude ma van twee. Sy glo ook dat hoe jy optree, kom terug na jouself: “As jy warmte en liefde uitdra gaan ander jou ontvang met warmte en liefde.”

Ten spyte daarvan dat sy gelowig is, sal sy nie haar geloof op iemand afdwing nie, en sy voel daar is tye wanneer jy nie Godsdiens in berading inbring nie, want anders sal jy byvoorbeeld ‘n kind skuldig laat voel, en dit kan berading negatief beïnvloed.

Sy vertel van haar eie rebelse tienerjare en hoe dit haar help om nou met tieners te werk.” My eie ervaringe help my baie om met tieners te identifiseer, en ek kan hulle baie vertel van my eie foute. Ek was ook eenmaal jonk en het voor dieselfde situasies te staan gekom, het dieselfde dinge gedoen en foute gemaak.”

Juanita het ‘n honneursgraad in sielkunde en het kursusse in kinder- en addolosenteberading gedoen – sy is juis die afgelope twee jaar besig met ‘n gevorderde kursus in berading.

Sy is geregistreer as ‘n psigometris en gee ook lewensoriëntering by PHS en doen loopbaanbegeleiding. Sy is baie betrokke by minder gegoede leerders in die skool.

As sy ontspan lees sy graag en hou haar besig met skeppende aktiwiteite soos houtwerk en skilder. Een van haar houtwerkskeppinge versier die muur van haar kantoor.

“Mense vra my dikwels hoekom ek nie eerder in ‘n kunsrigting gegaan het nie en dan sê ek ek hou my besig met die kuns van menswees, of die kuns van die mens. Dit bied my elke dag iets anders en iets nuuts.”

Wat maak haar kwaad en hartseer?

“As ek ‘n pad met iemand stap, 110% gee en die persoon wil niks gee nie, maak dit my kwaad. Eintlik is dit woede gebore uit magteloosheid. Ek wil so graag miskien iets verander, ‘n situasie verbeter. Dan moet ek leer om te ‘laat gaan’. Dit maak my ook ongelukkig as iemand nie die son wat oor iemand anders skyn vir die persoon gun nie.

“Almal het ‘n plek in die lewe, almal is ewe belangrik. As ons die aarde eendag verlaat keer ons almal terug tot stof, en ons vat niks saam nie.”

Sy sien haarself 10 jaar verder steeds besig om te doen wat sy nou doen. “Net met meer kennis en meer ervaring, en ‘n groter hart!”

Related Articles

Back to top button