Local NewsNews
Mollie Hawken kliniek vir diere nou oop by DBV
Vir maande lank is daar gedurig gebou en gebreek, geverf en geskrop sodat die Molly Hawken Dierekliniek hul deure op Donderdag, 15 Februarie kon open.
POLOKWANE – Dié kliniek is die breinkind van die DBV Polokwane komiteevoorsitter, Tania le Roux.
“Molly was die vrou wat hierdie kleinhoewe en huis waar die DBV vandag geleë is, aan die DBV in haar testament bemaak het.
“Sy was ‘n besigheidsvrou en mense wat haar goed geken het, sou sê sy is ‘n werkesel, maar ook toegewyde diereliefhebber,” vertel Tania.
Tania het ‘n paar jaar gelede besoek afgelê by Ballito’s Charity Shop, waar items verkoop word om geld in te samel vir hul DBV, waarna sy terug gekeer het na Polokwane en die gemeenskap oorreed het om ‘n liefdadigheidswinkel in die stad te open.
“Debbie Mouton, wat op ons komitee is, het gehelp dat ons ‘n winkel by Savannah Mall kry. Ons winkel het floreer en binnekort kon ek my belofte aan almal laat waar word. Ons kon ons eie kliniek bou.”
Sy vertel nadat die winkel die helfte van die geld wat benodig was geïn het, kon hulle met die kliniek begin. “Maar sonder ‘n veearts sou daar nie ‘n kliniek kon wees nie. Die DBV sou nooit ‘n voltydse veearts kon bekostig nie, maar Hennie de Kock, voormalige bestuurder van die DBV, en sy vrou, Ansie, het my gekontak om my van dr. Nadia Krige te vertel, ‘n veearts wat graag by die DBV en kliniek betrokke wou raak.”
Nadia vertel haar droom is om diere te beskerm en een manier om dít te bewerkstellig is sterilisasie.
“Dit sal lei tot minder diere en hopelik eendag, sal al die troeteldiere geliefde huise hê asook mediese sorg en sodoende sal baie mishandeling voorkom word,” verduidelik sy.
Bakery Co. se bakkers, Armand en Juan Potgieter, het ‘n koek vir die opening van die dierekliniek gebak en een van Linda Dyer se honde, Teddie, het ‘n vertoning gedoen. Verteenwoordigers van die Nasionale DBV het ook die geleentheid bygewoon.
maretha@nmgroup.co.za