Local NewsNews

3 generasies vleg die soetste koeksisters

Koesisters bak klink dalk maklik maar daar is ‘n sekere kuns aan die perfekte vlegsel knoop en so ook die stroop wat jou koeksisters kan laat uitstaan.

POLOKWANE – Dié kuns is iets wat Trudie Myburgh aan haar dogter, Tanya van Heerden, en kleindogter, Mariska Lourens, oordra.

Trudie en Tanya bak watertand-koeksisters om hulle inkomste aan te vul en ook om mense met geldinsamelingsprojekte by te staan.

“Ons het al baie mense met ons gebak gehelp en verwag niks terug nie want ons doen dit uit die goedheid van ons harte,” vertek Tanya.

Trudie verduidelik dat sy destyds, toe haar kinders nog op skool was, begin het om koeksisters te bak.

“Hulle het atletiek en allerhande ander buitemuurse aktiwiteite gehad en as ons as ouers dit wou bywoon, moes ek plan maak om geld te genereer. Ek het myself geleer hoe om koeksisters te bak,” sê sy.

So sal ‘n ma bykans enige iets doen vir haar kinders. Ook Tanya bak nou koeksisters om haar kind te help.

“Ons het die afgelope naweek koeksisters gebak om geld vir Mariska in te samel. Sy is in gr. 12 en benodig ‘n tandheelkundigeprosedure wat ongeveer R15 000 kos. Die mediese fonds waarop sy is betaal slegs R5 500 van die prosedure, sonder die deposito van R3 500 wat ek moet betaal voordat die dokter die draadjies kan insit. Dan moet ons óf die volle bedrag betaal óf ek moet R635 vir 12 maande betaal. Die dokter het bevestig dat die draadjies vir agt maande moet op wees wat beteken dat as ons gou speel dit betyds sal wees om die draadjies voor haar matriekafskeid in September te verwyder,” verduidelik Tanya.

“Ons het tans bestellings vir 160 dosyn koeksisters. Die wins is nie baie nie maar elke bietjie help ten minste.”

Mariska leer ook nou haar ouma se koeksister resep en sê sy vind die proses baie interessant.

Volgens Trudie lê die geheim van lekker koeksisters in die stoop sowel as die deeg, met die soetheid van kardinale belang.

Hulle lag en vertel dat daar altyd aan die eerste baksel geproe word om seker te maak dat als reg is.

“Dit neem ongeveer 15-minute om so drie of vier dosyn koeksisters klaar te maak,” vertel Tanya. “Dit is baie harde werk en tyd vir ‘floppies’ is daar nie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button