Local NewsNews

Liefde deur dik en dun dié egpaar se geheim

Terwyl die son bloedig warm op hulle bak, is Chris Nell en sy vrou, Freda, besig om ou plastiekpype in stukke op te sny.

POLOKWANE –  Elke kort-kort vertel Chris eers ‘n grappie en dan lag die egpaar saam.
“Ons maak herwinbare items, soos blikkies, pype en glas bymekaar wat ons dan weer verkoop,” vertel Chris.
Die paartjie woon tans in ‘n kamer by ‘n besigheid in Ladanna nadat hulle alles wat hulle besit het, verloor het.
Freda vertel dat hulle in 2013 ‘n herwinningsbesigheid gekoop het.
“Ons was baie gelukkig met die besigheid en het goed gedoen. In 2016 is die grond egter verkoop en die nuwe eienaar het ons slegs ‘n maand tyd gegee om nuwe grond te kry. Ons kon dit nie regkry nie en moes alles verkoop en die besigheid tot niet maak. Ons het iets van alles gehad, staal, plastiek, papier, glas en blikkies. Ons moes selfs van ons goed agter los.”
Die egpaar het al hul geld, wat pensioengeld insluit, geneem en na hul dogter en haar man in Stanger, Kwa-Zulu Natal, gegaan.
“Ons dogter het vir ons gesê daar is nie ‘n herwinningsbesigheid nie, en ons kan een daar gaan begin. Toe ons egter daar kom, sien ons dit is nie die waarheid nie. My dogter-hulle het nie geld gehad nie en haar man ook nie werk nie. Na ‘n paar maande het hulle net verdwyn en ons alleen op die plaas gelos.
“Ons moes weereens trek en het toe alles verkoop sodat ons kan geld hê. Ons het net ons bakkie en karavaan gehad,” vertel Chris.
Oppad terug na Limpopo vanaf Kwa-Zulu Natal, het die egpaar teëspoed met die bakkie opgetel. Op die ou einde moes hulle ook die karavaan verkoop om die bakkie te herstel.
“Toe ons terug is in Polokwane wou mense ons nie help nie. Ons het by Matlaladam gaan bly en met ons laaste geld petrol ingegooi en kos gekoop. Ons het ons selfone verkoop sodat ons kon kos koop.”
By Matlaladam het die egpaar visgevang om te eet en ook te verkoop. Freda het na die omliggende nedersettings geloop waar sy die vis verkoop het en ook dan benodighede vir hulle gekoop het.
“Met Nuwejaar het ons lewens verander. Mense wat vir die dag na die dam toe gekom het, het ons raakgesien en gesien ons sukkel. Hulle het ‘n helpende hand uitgesteek en ons gehelp om terug te trek stad toe en vir ons blyplek hier gekry,” vertel Chris.
Freda vertel dat hulle stadig maar seker weer besig is om op hulle voete te kom.
“Ons benodig ‘n waentjie waarop ons alles wat ons bymekaar maak kan laai, asook groot dromme om by besighede te sit sodat mense herwinbare items daarin kan gooi. Ek moet ook weer ‘n skaal koop om die items te weeg. Ons laai goed op, sorteer dit uit en neem dit dan na besighede wat betaal vir die materiale.”
maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button