Local NewsNews

Dorp se bloedskenkers staan saam na skietvoorval; nog bloed benodig

Die Bloedbank in Mokopane het 'n rekordgetal skenkings verlede Woensdag ontvang nadat 'n noodroep op sosiale media geplaas is dat 'n boer van Sterkrivier dringend bloed benodig.

MOKOPANE – Die boer was in ‘n skietvoorval betrokke en daar was nie genoeg bloed in voorraad nie. Inwoners van oral het dadelik op die noodroep reageer en is na die bloedbank om bloed te skenk.

Moira Nesmith, kliniektoesighouer by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se tak in Mokopane, is dankbaar vir die rekord.

“Dit is die eerste keer vandat ek hier werk dat ons 50 skenkers gehad het in ‘n dag. Die bloed het behoorlik gevloei vir ‘n goeie doel. Met die aanbreek van die feesseisoen en meer mense op die pad verhoog dit die vraag na bloed en is ons dankbaar vir skenkings.”

SANBD het vroeër ‘n waarskuwing uitgereik oor die lae eenhede en ‘n beroep gedoen dat donateurs dringend moet kom skenk.

“Die bloedvoorraad in die land is gevaarlik laag, die situasie is kritiek. Ons doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om bloed te skenk om die nasionale bloedvoorraad te versterk,” sê Silungile Mlambo, Nasionale Bemarkingsbestuurder van die SANBD.

Mlambo sê bloed is krities vir kankerpasiënte en vroue tydens ‘n bevalling. Hulle is die mense wat die meeste bloed benodig.

“So baie mense in lewensgevaarlike situasies moet dringend bloed kry. Jou skenking kan ‘n bloeiende moeder se lewe red, sodat sy die baba wat sy so pas in die wêreld gebring het, kan liefhê. Dit red ook iemand se lewe na daar komplikasies was tydens ‘n groot operasie. Skenkings help kankerpasiënte om te oorleef. ‘n Eenvoudige maklike skenking red lewens.”

Om meer te wete te kom oor bloedskenking en om jou naaste SANBD-skenker sentrum op te spoor, besoek sanbs.org.za of bel 0800 11 90 31.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button