NewsSchools

Ruk jou skoolroetine reg

Voor ‘n mens jou oëuitvee is die Desembervakansie verby. In meeste huise is die nuwe jaar se skooltasse gepak, skoolklere gekoop en die jongspan opgewonde om terug te gaan skool toe. Hoe gemaak om jou kind weer in ‘n roetine te kry?

POLOKWANE – Review het met onderwysers van Laerskool Pietersburg-Oos en Suikerbekkies Kleuterskool gesels om te hoor wat ouers kan doen om hul kinders weer in roetine te kry.

Lize van Dyk:

Stuur ‘n kind skool toe wat gewoond is aan ‘n gebalanseerde roetine. Bestuur julle huis met gesonde dissipline waar kinders nogsteeds hulself kan wees. Moet nie hul spontaniteit onderdruk nie en laat hulle hul kreatiwiteit uitleef. Hou die vakansie ook by roetine, veral met slaaptyd.

Sit alles die aand voor die tyd reg sodat dit nie die eerste oggend ‘n gejaag is nie. Dit sal bydra dat almal nie op mekaar se senuwees werk nie.

Madeleen Willemse.

‘n Nuwe skooljaar kan baie uitdagend vir ‘n kind wees. Dit is ons as ouers se plig om hulle nié nét betyds by die skool af te laai nie, maar óók om elke kind emosioneel voor te berei. Ek glo dat positiewe versterkings baie belangrik is. Woorde soos “Jy maak my trots”, “jy is belangrik” en “Ek glo in jou” maak ‘n massiewe verskil in ‘n klein kinderhartjie.

Jackie van der Merwe.

Onthou om vroeg te gaan slaap die vorige aand. Kinders het kwaliteit slaap nodig om hul brein optimaal te laat funksioneer. Wees voorbereid dat daar dalk ‘n paar trane sal wees, maar laai jou kind met selfvertroue af, juffrou is heeltemal bekwaam om dit te hanteer.

Anjah de Nysschen

Slaaptyd is belangrik. Hou by ‘n vasgestelde slaaptyd. Mamma en pappa kan beurte maak om elke aand nie net ‘n Bybelstorie nie, maar ook ‘n slaaptyd storie te lees. Vra jou kind uit oor die dag, maar hou die gesprek positief.

Rochani Boneschans

Ek dink dit is belangrik vir ouers om die veranderinge wat die jaar inhou met hulle kinders te bespreek. Praat oor hul nuwe juffrou en die nuwe werk wat voorlê om ‘n positiewe verwagting te skep. Kom weer in roetine, slaap vroeg en staan vroeg op. Hersien weer die kennis en vaardighede wat die kind al aangeleer het. Betrek die kind by voorbereiding en aankoop van nuwe skryfbehoeftes sodat die gedagte van skooltoe gaan weer insink. Bespreek die op- en aflaai plek vir die maats wat gewoonlik maar bietjie senuweeagtig is.

Gerda-Marì Joonè.

Voor ons, ons oë uitvee is die nuwe skooljaar op ons. Daarom is dit belangrik dat ons nie te lank moet wag voor ons weer in skoolroetine val nie sodat kinders gereed is op hul eerste skooldag van die nuwe jaar.

Kinders moet nie te laat in die bed kom in die aand nie en moet reeds in die aand besluit wat hul die volgende dag wil aantrek. Kinders kan self hul skryfbehoeftes in hul tasse pak en só seker maak dat die regte skryfbehoeftes gepak is vir die nuwe skooljaar. Bespreek met jou kind hul eerste skooldag en wat hul kan verwag. Maats wat van addisionele vervoer gebruik maak moet mooi verduidelik en gewys word waar hul opklim en afklim en waarheen van daar. Die belangrikste is dat ons ons kinders moet opgewonde maak vir hul nuwe skooljaar sodat hulle dit positief en met opwinding sal binnegaan.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button