Local NewsNews

Lana Bouwer se afsterwe ‘n groot verlies en leemte vir Bolivia Lodge

Lana is onlangs in die ouderdom van 70 jaar oorlede nadat sy die afgelope twee jaar gesondheidsprobleme ervaar het.

POLOKWANE – Enige iemand wat die afgelope 19 jaar lekker by Bolivia Lodge geëet het, kon maar weet dat hulle waarskynlik aan Lana Bouwer se kos gesmul het.

Lana is onlangs in die ouderdom van 70 jaar oorlede nadat sy die afgelope twee jaar gesondheidsprobleme ervaar het. Sy het in die afgelope twee jaar ook haar heup gebreek.

“Lana was vir meer as 40 jaar sinoniem met die voedselbedryf in Polokwane,” vertel Dawie Botes, mede-eienaar van Bolivia Lodge.

“Dit is met groot hartseer wat ons van haar afskeid neem. Sy was nog so ‘n groot deel van ons operasie, sy was altyd sinoniem met Bolivia Lodge. Sy het diep spore getrap en agtergelaat waarin ons kan loop. Haar kennis en ondervinding het ons elke dag gerig gehou om die gasvryheidwêreld te kon dien. Sy was 19 jaar deel van ons span, maar haar ondervinding in die bedryf strek oor die 40 jaar.
“Haar disse soos beesstert, skaapafval en koffievarktjops en net-lekker-eet kos sal vir altyd hier by Bolivia bly voortbestaan. Baie diep meegevoel en simpatie vir haar kinders en kleinkinders.
“Sy het talle en talle troues en ander funksies daagliks hanteer en het die afgelope 19 jaar die toon aangegee by Bolivia Lodge. Sy gaan baie gemis word.”

Bolivia Lodge wens die familie sterkte toe in die tyd van rou.

Volgens Lana se dogter, Esther Maritz, was haar moeder in die hospitaal met longontsteking en na haar ontslag het sy tuis aangesterk waar sy toe oorlede is. “Sy was baie rustig,” vertel Esther.

Die familie het groot waardering vir alles wat Dawie Botes en die personeel van Bolivia Lodge vir Lana en die familie gedoen en beteken het en het hulle dank en waardering ten volle teenoor hulle uitgespreek.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button