Local NewsNews

Muurbalfoendi palm trofee vir 16de keer in

Muurbal is 'n taktiese spel wat hand- en oogkoördinasie vereis. As jy egter nie fiks is nie, gaan jy lelik les opsê, weens die spel se vinnige bewegings en die bal wat jy met 'n groot hoeveelheid krag moet slaan.

MOKOPANE – Robert Abrahamse is dus nie verniet vanjaar die Kameeldoring muurbalklub kampioen nie.

Hy het onlangs die trofee vir die sestiende keer verower, wat duidelik sy kennis en vaardighede op sy vernuf uitbeeld.

Hoewel hy die spel soos die palm van sy hand ken, is elke wedstryd vir hom steeds ‘n uitdaging en hy hoop om die sportsoort vir ‘n baie lank tydperk te beoefen.

Robert is nie net die koning van die muurbalbaan nie, maar is ook die klub voorsitter en stap al ‘n lang pad saam met die twee bestuurslede, Ondervoorsitter Freddie van Eyk, en Sekretaresse Daléne van Eyk.

Hy vertel die muurbalgogga hom op 18 jarige ouderdom gebyt het en hoe sy liefde vir die spel vanaf daardie oomblik nooit opgehou het nie.

“Met die sportsoort kry jy elke keer ‘n behoorlik oefening. Daarby hou dit jou fiks en gesond en ‘n mens is nie afhanklik van die weerstoestande om te kan speel nie.

“Dit is ook seker een van die sportsoorte waar jy die meeste kalorieë verbrand.”

Hy oefen drie keer ‘n week en geniet die fiksheidgedeelte van die spel, die ontmoet van ander muurballiefhebbers en ook die mededinging van die spel.

“Ek speel al van 2000 provinsiaal. Limpopo se spelers moes vroeër jare altyd in die B-afdeling van die liga deelneem, maar die afgelope tien jaar speel ons A-afdeling en vanjaar was ons die naaswenners.

“Noordwes se span het ons in die doodsnikke van die liga geklop. Ons was gelukkig om die bekende muurbalspeler, JP Brits, vir die Limpopospan nader te kon trek. Ek leer baie by hom. Dit gaan ook nie altyd oor die wen nie. ‘n Mens se gesindheid is belangrik.”

Robert vertel hy was vir agt jaar voorsitter van die Limpopospan en het al in agt liga eindstryde gespeel waarvan hy een in 2013 gewen het. Volgens Robert kan oud en jonk die spel geniet.

Sy oefenmaat Frans Blignaut, het vanjaar ook in die eindstryd van die klubliga teen hom gespeel.

Dit is vir hom ook ‘n riem onder die hart dat hy sy liefde vir die spel na sy twee seuns Robert (8) en Janco (11), kon oordra. Janco spog reeds met provinsiale kleure en volg in sy pa se voetspore.

Robert moedig die dorp se sportspelers aan om by die klub aan te sluit. Lidmaatskap kos slegs R650 per jaar en R325 vir skoliere. Die klub beoog om in 2018 ‘n sosiale rondomtalie te hou asook om skoliere wat muurbal wil speel te help ontwikkel.

Belangstellendes kan vir Daléne by 082 821 4521 kontak.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button