BlogsOpinion

‘n Kers wat die donkerste donker ophelder

Mense is nie meer tevrede met die eenvoudige verhaal van ‘n ster, ‘n stal en ‘n baba nie...

My man het ‘n skietlamp gehad wat gelyk was aan 10 000 kerskrag.

Ek kan onthou dat dit ‘n wonderlike, verblindende lig gegee het. Ons was nogal baie in ons skik met so ‘n lig.

Dis nou totdat my broer ‘n ligbalk gekry het wat gelyk is aan ‘n miljoen kerse. Kan jy jou dit indink? Een miljoen kerse? Ek kan myself nie eens verbeel hoe groot die oppervlak sal moet wees om hulle almal staan te maak nie. En, boetie, kan daai ding lig . . . die spreekwoordelike ruiter bo van ‘n perd af.

Dis seker hoe die ou mense moes voel oor ‘n honderd perdekrag. Want staan jy langs ‘n groot boerperd, kan jy sommer voel hoe kragtig een van daai perdekragte moet wees.

Ons wêreld het oor die afgelope eeu vreeslik verander, het dit nie. Hulle se dat die tegnologie meer verander het in my ouers se leeftyd as in al die eeue voor dan. Ons trek dan glo al by die vierde industriële revolusie. Alles word vinniger, kleiner en meer gemeganiseerd. Vir party mense is dit goeie nuus, vir ander nie. Hoe meer gemeganiseerd, hoe makliker word die menslike faktor, foute en –verhoudinge uitgesorteer, maar hoe minder mense kry werk. Al hoe minder mense werk al hoe meer met masjiene. Nugter weet hoeveel kers- of perdekrag altesaam deesdae ingepak word. Nêrens het ek nog ‘n ding gesien wat menskrag meet nie, soos bv. “hierdie outomatiese stofsuier is gelyk aan 4 menskrag.

Hoe meer dinge verander, hoe meer gekunsteld, onnatuurlik, gefabriseerd word dit. Lig, lug, grond of groeimiddels word alles vervaardig. Ons ontwikkel mos.

Tog is daar niks lekkerder as om in die stikdonker om ‘n vuur te sit nie. ‘n Bosveldvuur kan immers nie verbeter word nie, dit kan nie ontwikkel word nie en dit kan deur geen tegnologie vervang word nie. Selfs in die donkerte nag is die vuur helder genoeg, en as dit donker of kouer word, gooi jy net nog ‘n stomp op die kole.

Net so kan ‘n enkele kers ‘n helder lig maak in ‘n pikdonker kamer. Dit hang natuurlik af van wat jy in daardie donker kamer wil doen. Of een kerslik helderd genoeg is. Vir fyn naaldwerk, sal dit beslis nie werk nie, maar vir baie ander dinge is die lig van een kers heeltemal genoeg. Dit beteken my broer het 999 999 kerse te veel in sy balklig. En is ‘n kers darem nie sag op die plooie nie. Geen wonder huwelike het soveel langer gehou nie!

Dit laat my wonder of soveel ekstra kerskrag of perde regtig nodig is? Is dit nie maar net deel van ons gulsige kultuur nie?  Dit moet altyd net beter en meer wees.

Geen wonder mense is nie meer tevrede met die eenvoudige verhaal van ‘n ster, ‘n stal en ‘n baba nie. Dalk klink dit te eenvoudig om waar te wees, te ongekompliseerd, te veel na een sterkrag.

Tog, net soos die kerslig, skyn ‘n stêr op sy helderste in die donkerste nag.

‘n Nederlandse digter het eenmal gêse ‘n mens se siel reis te perd en daarom is ons so gejaag en bevind ons ons in ‘n siellose wêreld. Ons siele is nog iewers oppad.

Dis dalk goed om die ligte ‘n bietjie af te sit, om die tegnologie ‘n bietjie stil te maak, om mooi te dink waarheen lei ons ontwikkeling ons. Dalk sien ons dan die lig mooi helder, kry ons siele kans om ons in te haal en is ‘n kers of ‘n vuurtjie of ‘n ster net genoeg lig om die pad vorentoe vir ons duidelik sigbaar te maaki.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button