Local NewsNews

Groot skok toe weerligstraal deur Xbox kom

Die storm wat Woensdag die stad getref het, het plek-plek verwoesting gesaai en het met swaar weer gepaard gegaan.

POLOKWANE – Lesers het op Review se Facebook-blad hul stories oor die storm gedeel. Een so ‘n leser is Riëtte Klopper wat vertel het dat haar seun, Jako (17), deur weerlig getref was terwyl hy Xbox gespeel het.

Sy het geskryf haar huis was deur weerlig getref en dat haar DStv-skottel en twee telivisiestelle deur die weer uitgeslaan was. Sy sê Jako het voor een van die telivisies gesit en Xbox gespeel het toe die weerlig deur die kontrolleerder sy hand en been getref het.

“Ek het so 18:00 se kant voor ons televisie gesit en Xbox speel. Die weer het geslaan en ek was effens verbaas toe dit ‘n kragonderbreking veroorsaak het. Ek het opgemerk dat die are op my hande uitgebult het en dat daar ‘n rooi uitslag op my been was. Ek het besef dat ek deur die weerlig getref was en alhoewel dit nie regtig seer was nie, was dit beslis ‘n wakeup call,” vertel Jako.

Riëtte verduidelik sy en haar man, Derik, het aanvanklik gedink Jako het net geskrik toe die krag afgaan en dat dit was hoekom hy geskree het maar dat hulle self groot geskrik het toe hulle besef het wat gebeur het.

“Ons het hom nie na die dokter geneem nie maar ons het hom wel dopgehou om seker te maak dit is nie ernstig nie,” vertel sy.

Hoe weerlig jou huis kan binnekom

Huise word met die buitewêreld verbind deur pype, elektrisiteitsdrade en telefoonlyne en dus kan ‘n weerligstraal oral jou huis binnedring.

Wanneer dit gebeur kan die weerlig verwoesting regdeur die huis saai en kan als wat aan elektrisiteit gekoppel is beskadig. Die weerlig kan ook deur pype en water jou huis binnedring wat beteken dat jy deur weerlig getref kan word wanneer jy hande was, skottelgoed was of bad en stort. Weerlig kan ook deur die telefoonlyn kom in die geval van ‘n landlyn. Selfone is veiliger om in swaar weer te gebruik tensy dit aan ‘n herlaaikabel (charger) gekoppel is. Weerlig kan selfs ook deur beton beweeg.

Alhoewel dit onprakties is om alle elektriese toebehore gedurende swaar weer te vermy is daar wel ‘n verhoogde risiko om voor ‘n rekenaar of televisie te sit wanneer die weer swaar is.

Indien jou huis deur weerlig getref is word dit ook aanbeveel om ‘n elektrisiën te ontbied om die huis se bedrading te kom inspekteur en vas te stel of enige skade ‘n moonltike toekomstige brandgevaar kan inhou.

Nog blits-ige feite:

  • In Suid-Afrika kom weerlig die meeste voor in die bergagtige dele van Lesotho, Kwazulu-Natal en die suidelike gedeeltes van Mpumalanga.
  • Die meeste weerligstrale is wolkstrale wat nie die grond tref nie. Gemiddeld tref slegs een uit elke ses strale die grond.
  • ‘n Mens kan ‘n goeie idee kry hoe ver ‘n donderstorm van jou af is deur die sekondes te tel vandat jy die weerligstraal sien tot jy die donderweer hoor. Elke drie sekondes is gelyk aan een kilometer.
  • Indien jy tydens ‘n donderstorm alleen in ‘n oop veld staan en jou hare staan regop en jou vel begin tintel is dit ‘n teken dat weerlig gaan slaan. Staan op jou knieë, buig vooroor en sit jou hande op jou knieë. Moenie plat op die grond gaan lê nie.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button