Local NewsNews

Moenie ‘n ‘heks’ van jou skoonma, of -dogter, maak nie

Nie almal het slegte verhoudings met hul skoonma’s nie en Review het met Koeksie Meyer en haar skoondogter, Trinette, gesels om te hoor hoe hulle dit regkry om so ‘n goeie verhouding te hê.

POLOKWANE – Skoonma-grappies is volop en fliekliefhebbers sal bekend wees met films soos ‘Monster in Law’, ‘My Big Fat Greek Wedding’ en ‘The In-Laws’ wat die verhouding tussen skoonouers en -kinders uitbeeld.

Dié tipe verhoudings waar die skoonfamilie ongevraagd inmeng is nie buiten gewoon nie.

Volgens ‘Days of the Year’ was Sondag die dag om eer te bring aan ‘n mens se skoonma.

Koeksie onthou die eerste dag wat sy vir Trinette ontmoet het.

“My seun, Reinhardt, het haar genooi vir ete en het selfs ‘n ordentlike maaltyd voorberei. Dit was in 2002 en ek was bly dat my seun so ‘n oulike meisie huis toe gebring het. Ek het dadelik van haar gehou, selfs ons vriende was ook in die wolke oor haar,” vertel Koeksie.

Trinette sê haar skoonma was nie ‘n ‘kwaai heks’ soos wat soveel skoonma’s uitgemaak word nie en dat sy haar altyd welkom laat voel het. Haar skoonma se huis, vertel sy, was soos haar tweede huis.

“Wat dinge vir my nóg makliker maak is dat my ma en my skoonma met mekaar oor die weg kom. Ons gun mekaar spasie en ek sal nie myself vererg as my skoonma kommentaar lewer oor iets in my huis nie. Ek sal byvoorbeeld my dogtertjie by my skoonma sonder skoene laat kuier en my skoonma sal ‘n goedbedoelde opmerking daaroor hê, maar ek sal my nie vererg nie. Ons raak nie onnodig kwaad vir mekaar nie.”

Koeksie vertel dat hulle nog nooit ‘n rusie gehad het nie, al sien hulle mekaar bykans elke dag.

“Ek help met die rondry van die kinders en geniet dit, veral omdat ek die tyd het om dit te doen. Ek weet hulle sal regkom met Vervoer as ek nie daar is nie, maar ek wil graag daar wees vir hulle.”

Trinette voeg by dat sy nie sonder haar skoonma sou kon regkom nie. “As dit nie vir my skoonma was nie, was nie ons of ons kinders vandag waar ons is nie. Sy het nog nooit nee gesê as ons haar ‘n guns gevra nie, behalwe as sy regtig nie kon help nie.”

Sou dit gebeur dat Koeksie lanklaas van Trinette gehoor het, sal sy dadelik kontak maak en uitvind wat fout is. Sy vertel dat dit gelukkig nie baie gebeur nie.

Hulle raad aan ander skoonfamilies is om mekaar te verdra en ruimte te gun.

“Elke person het iets wat hul irriteer of iets irriterend wat hulle doen, maar hierdie irritasies kan oorgesien word. ‘n Mens kan nie ‘n liefdevolle verhouding met jou eggenoot hê as jy nie ‘n goeie verhouding met sy of maar ma het nie. As jy jou skoonma seer maak, maar jy jou eggenoot ook seer,” vertel Trinette.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button