Local NewsNews

Man buite Mokopane met graaf aangeval

Edward Els is Saterdagoggend kort voor 08:00 aangeval na 'n konfrontasie met 'n man wat op sy gesin se kleinhoewe betrap is

MOKOPANE – ‘n Inwoner van Lisbon kleinhoewes is Saterdagoggend met ‘n graaf aangeval na ‘n konfrontasie met ‘n man wat op sy gesin se kleinhoewe betrap is.

Alma Pieterse wat daar woon, het aan Bosveld vertel haar skoonseun, Edward Els, is Saterdagoggend kort voor 08:00 na buite om te gaan rook toe hy ‘n man by hulle voertuig gewaar.

Volgens Pieterse het Els nader geloop en die man gekonfronteer. Die man het Els nie geantwoord nie en hom met ‘n graaf aangeval. In die stoeiery het Els geval en sy aanvaller het die oorhand gekry. Els is oor die oog, arm en been geslaan. Gelukkig het Els nie ernstige beserings opgedoen nie, net ‘n paar kneus en skraapplekke.

“My man Sakkie Pieterse het met die lawaai uitgeharloop en vir my geskree om my broer Danie van Huysteen wat by ons kuier te roep. Die verdagte het toe op vlug geslaan toe hy Sakkie hoor skree.”

Els sê sy is na die polisie om ‘n saak oop te maak. “Ek is egter by die aanklagkantoor deur ‘n ondersoekbeampte ingelig dat ek nie nou ‘n saak kan oopmaak, want die polisie moet eers die verdagte vang en ook sy weergawe van gebeure aanhoor voor ‘n saak geopen kan word.”

Els sê al wat deur sy gedagtes gegaan het tydens die aanval is dat sy kinders van twee en ses jaar in die huis is en hy hulle moet beskerm. “Dit is enige pa se instink om sy familie te beskerm. Die man het my erf onwettig betreë.”

Els sê sy familie slaap nie in die nag nie. “As ons ‘n vreemde geluid hoor sit ons regop. Ons is nou nog meer waaksaam en op ons hoede. My aanvaller is op vrye voet en ons hele familie vrees dat hy gaan terugkom en heel moontlik nie alleen nie.”

Els bedank die Valke-buurtwag en Limpopo VF+ Leier, Marcelle Maritz vir hulle vinnige bystand en ondersteuning.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button