Local sportSport

Gimnastiek gegrein in Zani se wese

As dit by gimnastiek kom is daar nie veel wat 'n mens meer vir Zani Prinsloo kan leer nie en met meer haar uitgebreide ondervinding is daar bykans niks wat haar valkoog mis nie.

POLOKWANE – Sy is die eienaar van Zani’s Gymnastics Academy, wat al die afgelope 26 jaar kinders onder haar bekwame toesig oplei.

“My hele lewe en studies was gimnastiek-gerig. Ek was self ‘n gimnas vanaf driejarige ouderdom en het verskeie kere Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen. Ek het my Honneurs in Sportsielkunde voltooi waarna ek vir twee jaar skoolgehou het. Ek het daarna by my ma, wat meisies artistiese gimnaste in die stad afgerig het, kom aansluit. Ek het die Zani’s GymnastiKidz Kleuterprogram in 1991 begin en daaruit het later ook seuns-, ritmiese- en trampolien-gimnastiek voortgespruit,” vertel sy.

Zani’s Gymnastics word landwyd gereken as ‘n gedugte teenstander. “Dit my strewe om hierdie status quo te handhaaf en ons kompeterende gimnaste op hierdie hoë standaard te hou. Ook om die geleentheid aan elke kleuter in en om Polokwane te bly bied om deel te kan wees van die Zani’s-program vir maksimale ontwikkeling.”

Haar erns en liefde vir gimnastiek gaan selfs so ver soos die mat wat sy in haar saal het. Dit was die springvloer wat tydens die 1984 Olimpiese Spele in Seoul, Suid-Korea gebruik is. Sy vertel dat sy van die mat gehoor het, die eienaar gekontak het en die mat kon koop. Die sukses van die klub, vertel sy, is alleen die genade van haar Hemelse Vader. “Hy voorsien my van ‘n ongelooflike span afrigters, ouers, gimnaste en fasiliteite.”

Haar raad aan ouers wat die sportsoort vir hul kinders oorweeg is dat gimnastiek die grondslag bied vir enige sportsoort.

“Dit is ‘n ongelooflike ontwikkelingsprogram vir kleuters en daarmee saam word talent reeds vroeg identifiseer. Die voordele van gimnastiek is nimmereindigend: selfvertroue, spanwerk, waagmoed, deursettingsvermoë, koordinasie, balans, spiertonus en die ontwikkeling van groot- en klein motoriese spiere,” vertel sy.

Van haar grootste suksesse sluit in om reeds drie keer as afrigter van die nasionale Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasie (SAGF) span aangewys te wees. “Ek is ook reeds 16 keer deur SAGF as beste afrigter in Suid-Afrika vir onderskeie dissipline en vlakke van gimnastiek aangewys,” voeg sy by.

Zani’s Gymnastics Academy het in die afgelope 26 jaar reeds 21 gimnaste in die nasionale SAGF span gehad.

Wanneer sy nie op die mat by die kinders is nie, is sy op ‘boskantoor’.

“Ek het ‘n ongelooflike passie vir wildlewe en die natuur en spandeer soveel moontlik tyd in die bos.”

Haar boodskap aan al die mense wat haar ondersteun het deur die jare is dat sonder mede-eienaar Annemarie du Plessis en die ongelooflike afrigterspan deur die jare, sou Zani’s nie een van die mees suksesvolste klubs in Suid-Afrika kon wees nie. “Dankie vir elkeen se bydrae en lojale ondersteuning. Ons het vandag Zani’s-maters by ons, wie se mammas Suid-Afrikaanse kampioene en gimnaste by Zani’s was,” sê sy.

Lees meer: Zani’s se top 26 gimnaste na SA Gimnastiekspele

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button