Local NewsNews

Gestorte karkasse ‘n kommer, gesondheidsrisiko

Talle diere se karkasse lê wyd gesaai in 'n woongebied net buite Mokopane en die skuldiges van dié onwettige storting word gesoek.

MOKOPANE – Bosveld het op die gruvonds in die Witvinger woongebied afgekom nadat Marcelle Maritz, Limpopo Leier van Vryheidsfront Plus, ons daaroor genader het. Volgens Maritz het sy ‘n oproep van ‘n anonieme boer ontvang oor die onwettige storting.

Met Bosveld se aankoms het die talle karkasse wyd gesaai in die veld gelê en die stank was oorweldigend.

Die karkasse is skaars ‘n paar honderd meter weg van ‘n woongebied.

Van die karkasse was nog gemerk, met die slagdatums duidelik sigbaar. Maritz sê wat vir haar agterdog wek is dat die slagdatums van die abattoir vroeër is as die datums wat op die merk aangedui is. “Dit beteken dat die bees geslag is nog voor die boer hom gekoop het.”

Maritz sê dit is moontlik dat die karkasse gesteelde beeste se afval is wat daar gestort is.

Sy is ook baie bekommerd oor die gesondheidsimpak wat dit op die omgewing, diere en mense kan hê.

Die datum is duidelik sigbaar.

“Die afval word ‘n paar honderd meter van ‘n woongebied gestort, dit is totaal onaanvaarbaar.” Wilma Prinsloo, Sekretaresse van Rooivleis Produsente Organisasie, sê daar is streng wetgewing in plek vir die abattoir om ontslae te raak van afval. Wetgewing is uiteengesit in die Staatskoerant nr. 24779 Deel VIII Artikel 11 (1) (r) Behandeling van afval materiaal.

Dit bepaal onder meer:

• Karkasse moet geplaas word in ‘n diefstalbestande houer wat duidelik aangedui is ‘afvalmateriaal’, in letters van nie minder as 10 cm hoog nie, of met ‘n stempel gemerk met groen ink;

• Niemand mag ‘n karkas, deel daarvan of enige eetbare produk wat van ‘n abattoir af kom as afval verwyder nie, behalwe met die toestemming van ‘n geregistreerde inspekteur wat ‘n veearts is en onderworpe aan die voorwaardes wat hy of sy mag oplê.

• Karkasse moet totale verbranding ondergaan; of

• Begrawe word op ‘n veilige plek, goedgekeur deur die provinsiale uitvoerende beampte en plaaslike regering.

• Karkasse kan ook verwerk word by ‘n geregistreerde steriliseringsaanleg.

Charles Booysen, Direkteur van Potgietersrus Abattoir sê die onwettige storting van die karkasse is ‘n groot skok. “Die manier waarop die karkasse van ontslae geraak is, is baie agterdogtig en sal beslis ondersoek word.”

Volgens Booysen verkoop die abattoir die kop en afval vir ongeveer R600. Dit is dus baie geld wat weggegooi is. Hy sê dat die abattoir besig is om die sekuriteit by die perseel te verhoog.

“Dit is duur om alles in plek te kry en kan nie oornag gedoen word nie. Net die nuwe sekuriteitstelsel is ‘n paar honderd duisend rand.”

Booysen vra dat enige iemand met inligting rondom die onwettige storting hom by 082 494 7559 kontak.

Kol. Alpheus Mokale, Hoof van die Limpopo Veediefstaleenheid sê hulle is bewus van die probleem en dit word ondersoek.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button