Local NewsNews

[FOTO’S] Kierieklapper Kunstefees – ‘n Jolige fees met ‘n goeie gees

Trompoppies, dansers, volkspele en die optrede van talle sangers was als deel van die pret op die terrein van die Kierieklapper Kunstefees.

MOKOPANE – Die Kierieklapper feesterrein was voorwaar ‘n fees vir die oog verlede Saterdagaand toe honderde mense van oral toegesak het om die gewilde ‘hardekole manne’ saam op die verhoog te sien sing.

Refentse, Ricus Nel, Adam Tas en Bok van Blerk het die feesgangers nie teleurgestel nie toe hulle vir die eerste keer saam op ‘n verhoog in die land wegtrek met hulle trefferliedjie Hardekole. Die gehoor het saam gesing, arms geswaai en geesgevang. Elkeen van die kunstenaars het ook afsonderlik kans gekry om van hulle gewildste treffers te sing.

Die Mokopane Sakekamer het laat weet daar was vanjaar ‘n 32% groei in die feesgangers teenoor verlede jaar. Robbie Wessels was Woensdagaand ‘n groot trekpleister en talle feesgangers het Vrydagmiddag na die rugbyveld van Hoërskool Piet Potgieter begin stroom om Corlea Botha en Snotkop op die verhoog te sien.

Corlea wat met ‘n verkoue gesukkel het, het ook haar versteekte talent gewys tot groot vermaak van die gehoor. Dit is om ander bekende Suid-Afrikaanse sangers en hul treffers na te maak. Feesgangers kon eerste ‘n voorskou kry, voordat sy later vanjaar dit op die televisieprogram, die Republiek van Zoid Afrika, sal wys. Snotkop het die jonges aan die saam sing en dans gehad en die feesgangers het gewys hulle is lus vir ‘n naweek se lekker kuier voor die verhoog, by die stalletjies en in die biertent. Die jonges het ook tot laataand op die speelapparate gekerjakker.

Die fees is die grootste geldinsameling van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes. Vandeesweek was daar nog fluks aan die note en sente getel wat gaan sorg dat die Dienssentrum se deure oop bly. Die sentrum bedank al die borge en almal wat die fees ondersteun het. “Dit was ‘n geseënde fees. Die gees was ongelooflik en daar is groot dankbaarheid in ons harte,” het Rina Holtzhausen van die Dienssentrum laat weet.

Hier is foto’s van die pret

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button