Local NewsNews

Janie Wierenga oor trots vrouwees

Review het onlangs met Janie Wierenga gesels oor haar jare in die radiowêreld en hoe sy daarvan ‘n sukses gemaak het in ‘n tyd wat radio meer deur mansomroepers oorheers was.

POLOKWANE – Deesdae is dié oud-omroeper ‘n onderwyser by Hoërskool Pietersburg en sy vertel dat haar opeindig by Jakaranda FM eintlik ‘n lekker storie is.

Sy glo daar is genoeg geleenthede vir vroue in Suid-Afrika, oor elke spektrum van die samelewing. “Vroue is, volgens my, ‘n geruime tyd reeds besig om hul plek in die samelewing vol te staan. Vir my is dit net so ‘n groot taak om ‘n tuisteskepper te wees as om ‘n groot maatskappy te bestuur. Solank jy dit wat jy doen met oorgawe doen sal jy die beste wees,” vertel sy.

Janie verduidelik sy twyfel of vandag se jong meisies besef hoe daar destyds teen vroue gediskrimineer is in vergelyking met hoe vroue dit deesdae as vanselfsprekend aanvaar dat hulle, net soos mans, gelyke regte het.

“Dit is met groot respek wat ek terug kyk op die formidabele vroue van gister, dié wat die baanbrekerswerk in die ‘manswêreld’ moes doen om die pad vorentoe vir ons te teer. Daarom het ek die grootste respek vir ouer vroue,” vertel sy.

“As ek enigiets vir vroue in Suid-Afrika kon doen sou ek graag elke vrou wat dink dat sy nie kan nie, wou oortuig dat enigiets moontlik is. Al jou drome kan waar word. ‘n Mens hoef nie te veg vir dit wat jy wil hê nie, jy moet glo dit is jou deel en dit vir jouself toe-eien. ‘If you can dream it, you can be/do it’.”

Omdat sy versot is op die kunste is Sandra Prinsloo vir haar ‘n rolmodel. “Nie net het sy in die filmwêreld ‘n pad vir vroue oopgemaak met haar uitstekende spel nie, maar ook in haar persoonlike lewe het sy altyd ‘n ware dame gebly, al het dit hoé woes met haar gegaan. Moet vir niemand sê nie, maar ek is ook ‘n ongelooflike groot bewonderaar van Marilyn Monroe (ook ‘n akrise) want sy het dinge in die vyftigerjare gewaag waarvoor baie vroue vandag nog nie kans sien nie,” verklap Janie.

Haar raad aan vroue in Vrouemaand is dat enige vrou of jong meisie moet weet dat sy kan. “Moet nooit dat enigiemand jou selfbeeld aftakel nie. Dit is nie net die ‘top 10’ meisies wat suksesvol is in die lewe daar buite nie.Alle vroue wat op hul regte staan, wat opstaan vir hulself en dit waarin hulle glo en wat vas geanker is in haar geloof, sal suksesvol wees. ‘n Mens moet natuurlik besluit wat jou definisie van sukses is. Hou aan groei totdat jy bereik het wat jy wou, en hou dan aan groei en word sterker en ryper. Bly altyd nederig en moet nooit dink dat jy te goed is om te kan val nie. En as jy val, staan op, stof jou knieë af, lig jou kop op, en gaan aan.”

Wanneer sy nie skoolgee nie kyk sy graag flieks op televisie en kuier saam met vriende om ‘n braaivleisvuur. Sy gaan kuier graag vir haar seun in Port Elizabeth of sy en haar man eet sjokolade en kyk sepies en rugby in hul vrye tyd.

“Ek kan ook vir ure met oorfone op my ore sit en na oorverdowende musiek luister uit die 80’s. Neil Diamond, Cher en Fleetwood Mac is van my gunstelinge. Om die waarheid te sê hou ek van enige musiek, dit hang als van my bui af,” skerts sy.

Janie beskryf haarself as ‘n lewenslustige mens wat altyd die beker half vol sien. Sy soek die positiewe in enige situasie en probeer om konfliksituasies te ontlont. “Alhoewel ek dit haat om self in konfliksituasies te beland, kan ek dit as buitestaander nogal redelik goed ontlont,” sê Janie.

Haar goue reël in die lewe is: “Leef en laat leef”.

“Voordat jy iets aan iemand doen, of iets vir iemand sê, draai eers die situasie om en dink hoe dit jou sal laat voel. Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Wees altyd eerlik – met jouself en met ander. Eerlikheid is soms seer, maar op die lang duur is dit goud werd. Moenie rykdom in rande tel nie, tel jou rykdom aan al jou seëninge elke dag.”

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button