Local NewsNews

Jong Rosemary ‘n ware vegter

Slegs drie dae na haar geboorte het Rosemary Auret (een jaar en agt maande) se ma, Cheries, besef dat daar met haar baba fout is.

POLOKWANE – “Haar magie was vreeslik opgeswel en potblou. Ek is na die staatshospitaal waar hulle my eers weggewys het. Hulle het eers ingestem om haar te ondersoek toe sy begin opgooi het,” vertel Cheries.

Rosemary is met Hirschsprungssiekte gediagnoseer. Dit is ‘n toestand wat by geboorte die dikderm affekteer en probleme met stoelgang veroorsaak.

Die baba kan nie dermbeweging hê nie en ‘n operasie moet gedoen word om die afekteerde gedeelte van die derm te verwyder.

In Rosemary se kort lewe het sy reeds verskeie operasies ondergaan maar het onlangs weer baie siek begin word.

“Sy het vreeslik diaree gehad wat ons nie kon stop nie en ek was weer met haar by die hospitaal waar ek weggewys was. Sy het ook ‘n breuk gehad wat bykans so groot soos ‘n tennisbal was,” vertel Cheries.

“Sy is van geboorte af in en uit die hospitaal sonder enige positiewe resultate. Ons het vir Amore Schoeman by Child Medi Organisation gekontak en hulle het gehelp om geld in te samel sodat Rosemary deur ‘n pediater ondersoek kan word asook die nodige medikasie ontvang.

Read more: Child Medi cares for your child when you can’t

“Dit het nie gelyk of die medikasie enige effek het nie en die pediater het vir ons ‘n verwysingsbrief na ‘n professor in Pretoria gegee, maar ons kon hom nie besoek nie omdat ons nie ‘n mediese fonds het nie.

“Na ‘n paar dae het Rosemary se toestand steeds nie verbeter nie en ons is weer terug na die pediater toe. Die pediater het aan ons verduidelik dat sy niks verder kan doen om Rosemary se toestand te verbeter nie en dat Rosemary dringend weer ‘n operasie moet ondergaan.”

Child Medi Organisation het vir Rosemary ‘n afspraak by die professor in Pretoria gekry. Die afspraak was aanvanklik vir 20 Junie maar was gelukkig vroeër geskuif aangesien Rosemary dringende hulp benodig het.

Cheries en Rosemary het saam met ‘n geleentheid na Pretoria gereis en Rosemary was onmiddellik geopereer.

“Die dokter het aan ons verduidelik dat alhoewel dit ‘n groot operasie was, was die breuk nie te groot nie.”

Rosemary is weer terug by die huis en Cheries vertel dat sy byna weer haar ou self is, als te danke aan die gemeenskap en Child Medi se hulp.

“Sy speel bedags maar het steeds pyn saans. Ons is dankbaar vir alles wat die gemeenskap en Child Medi Organisation vir ons gedoen het en die dokters vertel dat hulle verwag dat sy ten volle sal herstel.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button