Local NewsNews

Oud-Pietie, Martin Opperman sterf

Martin is verlede Woensdag, 'n week na sy 21ste verjaardag, tragies oorlede.

POLOKWANE – “Martin was my en Nita se enigste seun, en ‘n stil en voorbeeldige kind.”

So vertel ‘n gebroke Willem Opperman hierdie week na die egpaar se seun, Martin, se dood.

As pa onthou hy veral sy seun se goeie maniere, en die goeie en gelukkige tye.

Hy kyk met ‘n groot glimlag na ‘n foto, Martin se matriekafskeidfoto.

“Ek het glad nie saamgestem met dié wit pak vir die matriekafskeid nie, maar dis wat hy wou dra,” onthou Willem.

Martin was duidelik baie gewild waar hy aan PHS gematrikuleer het en ook in die jare naskool, en volgens die egpaar is dit juis die besoeke van sy vriende en vriendinne, wat in hierdie moeilike tyd vir hulle berusting bring.

Dit is veral ook die stoeigemeenskap wat deur sy dood geruk is.

Martin, wat reeds op agt begin stoei het en tot en met sy laaste skooljaar ‘n bedrewe stoeier was, het Suid-Afrika drie keer oorsee verteenwoordig.

Volgens sy ouers het hy onder plaaslike afrigter, Jan Roets, se oefenoog sy volle potensiaal bereik by die Ion Baciu Stoeiklub, en in 2013 is Martin in sy klas as 15de op die wêreldranglys geag.

So welbekend was Martin in die stoeigemeenskap dat ook die Noord-Gauteng Stoeifederasie hul medelye op sosiale media uitgespreek het.

Maar dit is as seun, as mens, wat sy ouers vir Martin die meeste sal mis.

“Hy was vreeslik lief vir sy honde, en ook vir kinders. Hy het altyd op ‘n mooi manier opgestaan vir mense wat swaarkry, en veral ook teen boelies.”

Nita vertel dat haar seun daarop ingestel was om gesond te lewe, en dat hy werklik geglo het ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.

“Ons weet hy het nou vrede in die hemel. Ons as sy ouers berus dat dit die Here se wil was. Martin was, nes ons, baie godsdienstig.”

Die egpaar het hul innige dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hul ondersteuning.

“Die mense het vir ons baie kos gebring, oproepe, kaartjies en besoeke. Vriende en vriendinne van Martin wat kom kuier, bring vir ons berusting.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button