Local NewsNews

My buurman is ‘n myn!

Inwoners van Lephalale was uit die veld geslaan deur 'n besluit van die Minister van Minerale Regte om goedkeuring te gee aan Umbono Coal om voort te gaan met hulle Groothoek Mynprojek.

LIMPOPO – Die Omgewingsimpakstudie is met groot teenkanting begroet toe dit verlede jaar die projek voorgestel het. Die Groothoek projek beoog om ‘n oopgroef-steenkoolmyn binne die residensiële gebied van Lephalale te begin. Niemand het gedink dit sou ooit goedgekeur word nie. “Ek dink ons is almal onkant gevang,” se Astrid Basson, raadslid van Wyk 13 in Lephalale. “Mense gaan ernstig benadeel word deur die impakte van die myn in Onverwacht, Marapong en die nuwe ontwikkelings in Altoostyd.”

Die myn word beplan op die plase Eendracht en Groothoek wat aan die rand van die Onverwacht-woonbuurt lê.

Direk langsaan is die regering besig met die ontwikkeling vir lae- en medium-koste behuising in die Altoostydsontwikkeling.

Volgens ‘n munisipale woordvoerder is Lephalale geoormerk om die eerste demokratiese stad in S.A. te word, waar alle residensiële gebiede een kan word. Lephalale is ook veronderstel om ‘n ‘groen’ stad te wees. Nie een van hierdie ideale sal moontlik wees met ‘n oopgroef steenkoolmyn binne die stadsgrense nie. Die eiendom is geleë reg langs ‘n stel woonstelblokke. Die eerste snit, m.a.w. waar die groef begin sal word, is minder as 2,5 km vanaf die TVET kollege, die provinsiale hospitaal en residensiële gebiede. Die vrees is ook dat die nuwe laekostebehuising nie die skuddings van die myn se ontploffings sal kan deurstaan nie.

“Met die myn langs Marapong, Altoostyd, Onverwacht en die res van Lephalale sal die impakte op gesondheid net soveel meer wees,” se Makoma Lekalakala van Earthlife Africa. “Ons weet dat die persoonlike koste en die koste vir die land weens steenkoolbesoedeling reeds in die miljoene strek. Mense se gesondheid, hulle watersekerheid en persoonlike veiligheid, asook standaard van lewe word dramaties beïnvloed. Ek wonder of die direkteure van Umbono Coal of selfs die konsultante graag hier sou wou woon.”

Die appèl teen die minister se besluit is deur verskeie groepe in die gemeenskap ondersteun. Selfs die plaaslike munisipaliteit het protes aangeteken.

editor@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button