Bosveld NewsLocal NewsNews

Godsdiens in skole weer onder loep

OGOD steun in sy betooghoofde op die handves van menseregte soos vervat in die Grondwet.

MOKOPANE – Die beoefening van godsdiens in openbare skole gedurende skoolure en die wyse waarop dit geskied is vandeesweek weer landwyd onder die vergrootglas weens ‘n hofsaak tussen die Organisasie vir Grondwetlike Onderrrig en Demokrasie (OGOD) en ‘n aantal Afrikaanse skole wat na bewering diskrimineer teen leerders wat nie die Christelike geloof aanhang nie.

Die waterskeidingsaak waarin die uitspraak met groot oë afgewag word, is in die Hooggeregshof in Johannesburg in 2014 aanhangig gemaak vir ‘n beslissing dat dit in stryd is met die Nasionale Onderwysbeleid en die land se Grondwet om slegs ‘n sekere geloof se etos in openbare skole te verkondig.

Die skole wat by die hofsaak betrek is en die saak teenstaan, is die Laerskool Randhart, die Laerskool Baanbreker, die Laerskool Garsfontein, die Hoërskool Linden, die Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium, wat almal ‘n Christelike etos het.

Paul Colditz, Uitvoerende Hoof van die Federasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), bly optimisties oor die uitslag van die hofgeding en wou nie veel verder uitlaat omdat die saak sub judice is. Fedsas verteenwoordig die ses skole in die saak tewyl AfriForum as vriend van die hof tot die saak gevoeg is en die skole finansieël bystaan met hulle regskoste.

OGOD steun in sy betooghoofde op die handves van menseregte soos vervat in die Grondwet. Van die besware wat geopper word is dat leerders geviktimiseer word as hulle nie aan die skole se godsdiensaktiwiteite deelneem nie. Die voorsitter van Ogod, Hans Pieterson, sê sy organisasie het geen beswaar teen godsdiensonderrig as sodanig by openbare skole nie, mits alle godsdienste gelyke behandeling ontvang soos wat deur die Grondwet voorgeskryf word. Vir hom gaan dit oor die beoefening van godsdiens gedurende skooltyd en dat sekere leerders direk of indirek geviktimiseer word as hulle nie daaraan deelneem nie. Die skole dring weer op die reg van godsdiensvryheid soos hulle dit sien aan en sê hulle oortree nie die Grondwet nie. Benadeling van die kinders as hulle nie die meerderheidgeloof van ‘n betrokke skool volg nie, word ontken.

Johan Kruger, adjunkbestuurshoof by Solidariteit, sê dit vir Solidariteit uiters belangrik dat openbare skole die vryheid moet hê om ‘n Christelike karakter te kan kies. “Hierdie geloofsuitgangspunt is Grondwetlik moontlik, prakties uitvoerbaar en speel ‘n belangrike rol in die sukses van talle skole in die land.” Kruger verduidelik dat dit nie vir Solidariteit nodig was om aanvanklik as vriend van die hof in hierdie saak toe te tree nie, omdat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) op 10 Maart 2016 as vriend van die hof, sterk standpunt ingeneem het vir skole se reg om hul met ‘n bepaalde geloof te belyn.

“Die SAOU het egter op 28 Februarie, hofstukke ingedien wat lynreg met hul aanvanklike eedsverklaring staan en teen die sterk pro-godsdiensstandpunt van hul lede en ledeskole indruis. Die SAOU se ommeswaai het Solidariteit met geen ander keuse gelaat as om tot die saak toe te tree nie,” sê Kruger. Die SAOU het intussen weer op 21 April van strategie verander deur hom van die saak te onttrek.

“Ongelukkig is daar steeds ‘n leemte in die hofstukke. Duisende onderwysers wat sterk daaroor voel dat skole ‘n spesifieke etos mag handhaaf se stemme word steeds nie gehoor nie. Solidariteit gaan dus voort om as vriend van die hof tot die saak toe te tree anders gaan die unieke stem van daardie roepingsgedrewe onderwysers nie gehoor word nie,” het Kruger gesê.

Die wyse waarop godsdiens in openbare skole geskied en die beoefening daarvan in skooltyd draai tans weer in die Hooggeregshof in Johannesburg.

Hier op Mokopane is die hoofde van openbare skole, beheerliggame en predikers versigtig om hul nou uit te laat oor die komplekse en sensitiewe saak en daar word gewag vir die uitspraak. Bosveld het met ds. Peet Venter, leraar van die N.G. Kerk Piet Potgietersrust gesels

Ds Venter sê verskeie leraars besoek Hoërskool Piet Potgieter op Dinsdae-oggende en Laerskool Krugerpark op Vrydae waar die kinders dan godsdiensonderrig ontvang. Tot op hede was daar nog nie enige probleme waarvan hy bewus is nie en vryheid van keuse is ter sprake.

“Die kerk is 100% daaragter dat ons Christelike skole moet hê, maar ‘n mens moet ook nie uit die oog verloor dat ons in ‘n gebroke wêreld leef nie. Elke skool het ‘n etos wat deur die beheerligaam van daardie skool bepaal word. Godsdiens word onderrig sonder benadeling van diegene wat daarvan verskil. Ruimte word ook gelaat vir onderrig van die leerders wat Moslems of Jehovas is. Die leerders wat nie gedurende skoolure godsdiensonderrig wil hê nie kan in die daardie tyd in die saal gaan sit.”

‘n Mens moet nie uit die oog verloor dat die ouers die primêre plek van godsdiensonderrig moet wees (dit is deel van die doopbelofte).” In hierdie groot taak het die ouers natuurlik die kerk as vennoot om die kinders in godsdiens te onderrig.

“Die kerk kan hom natuurlik nooit laat voorskryf deur die wêreld rakende sy getuienistaak nie, daarom sal die ouers, kerk en ander belangrike vennote (soos die skool) saam kan dink aan optrede wat hierdie aangeleentheid betref. Plaaslike omstandighede sal natuurlik ook in ag geneem word.”

Ds. Venter verwys ook na die Grondwet wat ook Godsdiensvryheid voorstaan. Hoewel die beheerliggaam die Christelike kernwaarde van die skool bepaal kan die beheerliggaam nie teen die Grondwet optree nie. ‘n Sakeman wat anoniem wil bly, meen godsdiensonderrig in skole sonder kinders uit as hulle in ‘n saal moet gaan sit omdat hulle nie deel van die onderrig wil wees nie.

Op daardie jonge ouderdom is daardie kinders blootgestel aan groepsdruk.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button