Local NewsNews

Liefde vir die mens vloei deur sy are

Tjaart van Wyk het al meer as 100 eenhede bloed geskenk en sy toewyding aan die SANBS is bewonderenswaardig

POLOKWANE – Daar is soveel maniere om terug te gee aan jou gemeenskap en om bloed te skenk is slegs ‘n klein deeltjie daarvan. Tjaart van Wyk, het dié geleentheid, om ander te help nie verby laat gaan nie en dit met beide hande aangegryp.

“Ek skenk nog altyd bloed en het verlede jaar my 100ste eenheid geskenk. Dit beteken dat ek reeds 300 mense gehelp het. Ek is nie ‘n mens wat fisies uitreik en mense help nie, ek verkies om in die agtergrond te bly. Deur bloed te skenk kan ek in die agtergrond bly en steeds mense help.”

Hy vertel dat Dottie Pinn, Skakelbeampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens.(SANBD), Limpopo, hom ongeveer drie jaar gelede genader het om te vra of hy nie op die bloedskenkerskommitee wil dien nie.

“Dit was net nadat ek 75 eenhede geskenk het en ek het net gevoel dat dit die regte ding is om te doen. Om lid van die kommitee te wees moet jy ‘n gereelde skenker wees, met ander woorde ten minste vier keer ‘n jaar skenk.”

Behalwe om die kwartaalikse vergaderings te lei, moet hy ook deur middel van Skype vergaderings wat in Pretoria gehou word, bywoon. Die kommitee reël ook vier bloedskenkfunksies. Tydens die byeenkomste moet nuwe lede gewerf word en moet die SANBD aan die gemeenskap bekendgestel word. Een van die funksies was die Easter Run wat vroeër die jaar by Savannah Mall gehou is.

“Ons kry skenkers, maar sukkel om hulle te behou. ‘n Skenker se bloed kan eers gebruik word nadat hy vir die tweede keer geskenk het. Skole is ons grootste bron van nuwe skenkers en volwassenes voel hulle het nie altyd die tyd om te skenk nie. As die gewoonte van jongs af gekweek word, dan word dit ‘n lewensstyl.”

“Die uitdagendste deel van my werk is om nuwe lede te werf, maar die lekkerste is om vergaderings te lei. Dit is lekker as jy jou vorderingsverslag kry en sien hoe alles in plek val.”

 

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button