BlogsOpinion

Oortreders in blou gee land ‘n knou

BOSVELDPRAATJIES: Wat gaan by ons manne en vroue in blou aan?

Dis nou al die hoeveelste keer dat een van hulle toplede onbevoegd verklaar is en dit nogal deur die Hooggeregshof. Nou is dit weer die hoof van die Valke wat uitgeskop moet word nadat twee regters by verskillende geleenthede bevind het Ntlemeza “was a liar and lacked integrity” (SABC Nuus, 17 Maart).

Daar sit ook ‘n kolonel in die tronk nadat hy wapens wat vernietig moes word, aan Kaapse bendes verkoop het. Altesaam 1 600 moorde is alreeds forensies aan daardie wapens verbind en die getal groei by die dag.

‘n Vorige SAPD kommissaris en voormalige ANC jeugleier (1987-1991) was selfs in die tronk. Jackie Selebi is in 2010 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis weens korrupsie, maar is in Julie 2012 op mediese parool vrygelaat en uiteindelik so jaar en ‘n half later eers oorlede.

Het die feit dat hy voorheen hoë politieke aanstellings beklee het, iets te doen gehad met sy mediese parool? Amper soos Schabir Shaik, wat met ‘n 15 jaar vonnis en ‘n bevinding deur regter Hilary Squires dat daar “oorweldigende” getuienis van ‘n korrupte verhouding tussen hom en Zuma was na vier jaar, wat hoofsaaklik in die hospitaal deurgebring is, ook op mediese parool vrygelaat is. Dit volg na ‘n openbare uitlating deur Zuma enkele dae voor sy parool “as President of South Africa, I would personally ensure Shaik’s release”. Dis nou agt jaar later en die ou is steeds skynbaar springlewendig.

Intussen gaan ons president maar net voort om die een onbevoegde SAPS “leier” met ‘n volgende onbevoegde een te vervang. Ek haal my hoed af vir daardie SAPD lede wat weens ‘n roeping steeds in ‘n organisasie vasbyt waar die streep van korrupsie en onbevoegdheid gereeld van reg bo af ondertoe strek.

Hoe erg is dit werklik? Volgens die SAPS se Limpopo webwerf is daar 97 polisiestasies in die provinsie. Die getal beamptes per stasie word nie gegee nie, maar ons kan aanvaar dat dit wissel van ‘n paar op van die kleiner stasies tot moontlik honderde in ‘n plek soos Polokwane.

Ewenwel, kyk ons na die aantal polisiebeamptes wat net die afgelope twee kalenderjare landwyd vir kriminele oortredings arresteer is, kom ons by 1 431 uit.

Projekteer dit op Limpopo en dit beteken dat elkeen van daardie 97 stasies meer as 15 lede elk weens arrestasies sou verloor het.

Dit laat mens dink nê. Nie net aan die rol wat sommige SAPD lede skynbaar nou vir hulself toeeien nie, maar ook wat by die keuring van aspirant konstabels (en sommige kommissarisse) aangaan.

Op SAPD se nasionale webwerf word ‘n pragtige gedragskode uitgespel. Die heel eerste taak van die polisie word aangedui as “prevent, combat and investigate crime”.

Kyk ek egter na die arrestasiesyfer onder hulle eie lede, moet dit miskien eerder lees “initiate, support and whitewash crime”! Geen wonder die grappie doen die rondte dat by baie misdade die polisie reeds op die toneel is voor die misdaad nog gepleeg is. Kyk ek na bostaande, begin ek mos nou bang word vir ons eie polisie, veral waar nog ‘n voormalige ANC jeugleier (2005-2008) nou skielik die nuwe Minister van Polisie is. Dis die einste Fikile Mbalula van “moer hulle” op die rugbyveld-faam.

In ‘n 2015 verslag deur Gwen Dereymaeker, navorser by die Civil Society Prison Reform Initiative, ‘n projek van die Dullah Omar Instituut by die Universiteit van die Wes Kaap, word gemeld dat R1 miljard in die agt jaar vanaf 2007/08 tot 2014/15 in eise deur die SAPD uitbetaal is. Siviele eise teen die polisie het in Desember 2015 egter reeds op ‘n verbysterende R26 miljard gestaan. Dit dui op oorweldigende magsmisbruik deur polisielede.

Maar toemaar met Malusi Gigaba, die nuwe Minister van Finansies, ook ‘n voormalige ANC jeugleier (1996-2004), sal ou pêlle seker by mekaar staan en daardie eise sommer tjoef-tjaf betaal word!

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button