Local NewsNews

Regsadviseur gesels oor onteiening, vergoeding ingevolge die Grondwet

Anneize Crosby is reeds 'n geruime tyd adviseur vir Regs- en Grondsake en Parlementêre Skakeling vir Agri S.A.. Sy het 'n brandende vraag beantwoord:

“Daar is algemene kommer en bespiegeling oor politieke oproepe vir onteiening sonder vergoeding, maar wat is die risiko dat dit wel kan gebeur?

“Daar word die laaste tyd baie onverantwoordelike uitsprake gemaak, ook deur senior politici oor onteiening sonder vergoeding. Feit van die saak is, onteiening sonder vergoeding is nie moontlik ingevolge ons Grondwet nie.”

Artikel 25 van die Grondwet vereis regverdige en billike vergoeding by onteiening. In baie lande van die wêreld is vergoeding ook betaalbaar vir konstruktiewe onteiening, oftewel gevalle waar die staat nie die eiendom verkry nie, maar wel die eienaar se regte sodanig aantas dat daar waardevermindering of ‘n verlies aan regte ten opsigte van die eiendom is. Die konsep is nie pertinent deel van die Suid-Afrikaanse reg nie, maar dit is moontlik dat die regspraak so kan ontwikkel dat sekere optredes as konstruktiewe onteiening geag sal kan word.

Onteiening in SA:

Ontneming (onteiening sonder vergoeding) word beperk deur die Grondwet. Artikel 25 van die Grondwet verbied arbitrêre ontneming. ‘n Ontneming sal arbitrêr wees indien dit nie die toets van Artikel 36 van die Grondwet, die sogenaamde beperkingsklousule, slaag nie. Artikel 36 werk onder andere met begrippe van rasionaliteit en proporsionaliteit. Dit behels dat daar ‘n verband moet wees tussen die wettige doelwitte van wetgewing en die maatreëls wat voorgestel word om daardie doelwitte te bereik. Die maatreëls mag ook nie buite verband wees met die doelstellings nie, en die howe kan onder andere oorweeg of daar nie ander, minder ontwrigtende maatreëls bestaan om dieselfde doelstellings te bereik nie.

Enige wegneem van eiendom sonder vergoeding is ‘n ernstige ingryping in die regte van ‘n individu. Eiendomsreg is ‘n fondamentele mensereg wat deur die meeste internasionale konvensies op menseregte as sulks erken word. Hou in gedagte dat Artikel 39 van die Grondwet bepaal dat howe, by die uitleg van die handves van regte, die waardes van ‘n oop en demokratiese samelewing moet bevorder en moet die howe ook die volkereg in ag neem. Die volkereg is onder andere vervat in die internasionale konvensies op mensregte.

Internasionale reg:

Die Food and Agricultural Organisation (FAO) van die Verenigde Nasies het in 2009 ‘n gids uitgebring oor internasionale beste praktyk by onteiening. Die uitgangspunt van die dokument is dat die gedwonge verkryging van eiendom misbruik kan word en dat daar maatreëls in plek moet wees om dit te verhoed. Die gids vereis onder andere duidelike en deursigtige prosedures vir gedwonge verkryging van eiendom, en vergoeding wat verseker dat geaffekteerde persone nie slegter daaraan toe is na die onteiening as voordat dit plaasgevind het nie. Dit vereis dat geaffekteerde persone nie slegs vir die verlies aan grond vergoed moet word nie, maar ook vir verbeterings en vir die ontwrigting wat gepaard gaan met so ‘n stap.

Vergoeding:

Daar is ook ‘n warm debat oor die berekening van vergoeding in terme van S.A. se Grondwet. Die Waardeerder-generaal se regulasies wat toegepas sal word ten aansien van grondaankope deur die staat word afgewag. Die regulasies sal na verwagting poog om groter duidelikheid te gee oor hoe die faktore wat in Artikel 25(3) van die Grondwet gelys word, aangewend moet word om by regverdige en billike vergoeding uit te kom.

Skrapping van Artikel 25:

‘n Laaste vraag wat opduik is: “Wat sou dit behels om Artikel 25 uit die Grondwet te verwyder of te wysig. Artikel 25 beskerm ‘n fondamentele mensereg, wat ingevolge internasionale menseregte-instrumente soos die Universele Verklaring van Menseregte van die Verenigde Nasies, die Europese Konvensie op Menseregte en die Afrika konvensie op Menseregte (African Charter on Human and Peoples’ Rights) beskerming geniet. Daar is nog nooit vantevore in S.A. gepoog om ‘n fondamentele mensereg wat beskerm word in die Menseregtehandves in die Grondwet te skrap of te wysig nie. Een van die grondwetlike beginsels vervat in Bylae vier van die Grondwet bepaal dat elke persoon moet alle universele fondamentele regte en vryhede geniet, welke regte in die Grondwet vasgeskryf en beskerm moet word. Dit is ‘n baie ernstige en radikale stap om te neem. In praktyk sou dit behels dat ‘n twee-derde meerderheid in die Nasionale Vergadering ten gunste daarvan stem en dat ses van die nege provinsies in die Nasionale Raad van Provinsies ook ten gunste daarvan stem.

Die gevolgtrekking waartoe Crosby kom, is dat onteiening sonder vergoeding nie maklik ‘n werklikheid kan word nie.

As daar onteiening is, moet daar regverdige en billike vergoeding betaal word. Daar is wel nog ‘n mate van onduidelikheid oor presies hoe ons howe die konsep van regverdige en billike vergoeding gaan hanteer. Ontneming sonder vergoeding is moontlik, dit sal gewoonlik regulatoriese stappe wees, maar dit sal slegs grondwetlik wees indien dit nie arbitrêr is nie, want die Grondwet verbied arbitrêre ontneming.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button