Local NewsNews

Lokke waai vir Kansa

Chenise Williams (10) wys hiermee sy wil sommer vroeg in haar lewe 'n verskil maak.

MOKOPANE – Haar ellelange poniestert is afgesny om ‘n glimlag op ‘n kankerpasiënt se gesig te sit, sê ‘n 10-jarige meisie van Mokopane wie nie geskroom het om ‘n goeie daad te verrig nie.

Chenise Williams wys hiermee sy wil sommer vroeg in haar lewe ‘n verskil maak. Sy het haar hare laat sny en die poniestert van 25 cm aan Kansa geskenk om ‘n glimlag op ten minste een kankerpasiënt se gesig te laat.

Volgens Ansa Smit van Kansa Mokopane, is haarverlies, buiten die newe-effekte van kankerbehandeling wat ‘n persoon siek laat voel, ‘n baie emosionele gebeurtenis vir ‘n pasiënt.

“As ‘n mens aan die binnekant nie lekker voel nie, help dit soms om jouself aan die buitekant op te dollie. Dus is dit moeilik as jy dan nie hare het nie,” vertel Smit. Danksy finansiële hulp en haardonasies soos Chenise s’n kan Kansa pasiënte help om beter oor hulself te voel tydens behandeling.

Tot selfs vyf mense se hare word soms gebruik om een pruik te vervaardig waarvan die koste tot R2 000 kan wees.

Dié pruike word egter gratis aan Kansa pasiënte verskaf volgens beskikbaarheid.

Vir meer inligting oor haarskenking kontak gerus vir Ansa Smit van Kansa Mokopane by 083 272 2196.

lionel@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button