Local NewsNews

Geloof lei haar in die regte rigting

Karien se leuse is "Soek die Koninkryk van God, en die res kan bygevoeg word".

POLOKWANE – Karien Jordaan se voorliefde vir mense en gawe vir verkope het haar keuse om by die eiendomsbedryf in te tree, ‘n maklike een gemaak.

Seeff Polokwane, waar sy lisensiehouer is, is haar eiendomstuiste in die stad, ‘n plek waar sy gemaklik voel.

Sy vertel haar loopbaanreis tot hier was egter nie altyd soos wat sy dit beplan het nie.

“Verkope was altyd in my bloed. Ek onthou ek het op skool al rivierklippe verkoop en op universiteit het ek horlosies verkoop. Nadat ek en my man, Derick, getroud is, het ek gesit en wonder, ‘wat is die grootste ding wat ek kan verkoop?’. Huise het bykans onmiddellik in my gedagtes opgekom,” vertel sy.

In 1992 het sy by Ambassadeurs Real Estate in Port Elizabeth aangesluit en ‘n jaar later het sy by Aïda in Nelspuit aangesluit.

Na verskeie ander besighede wat sy intussen besit het, het sy in 2014 weer voltyds as eiendomsagent begin werk.

“Ons het in 2010 na Pretoria verhuis waar ons ‘n kettingwinkel gehad het en nadat ons in 2014 teruggekeer het na Polokwane, was ek net ‘n maand by die huis voor ek weer verveeld geraak het. Ek het toe begin kyk watter agentskap is die grootste en ‘n vriendin het my van Seeff vertel.”

Sy vertel hoe, met die intrapslag by Seeff, Manie Oosthuizen haar gevra het wanneer sy kan begin werk.

In haar eerste jaar as agent stap sy reeds met die ‘Rookie’ van die Jaarprys en van hier ryg sy die toekennings in: in jaar twee is sy die beste agent in die Noordelike Streek asook vyfde nasionaal.

Einde Desember word sy lisensiehouer en kwalifiseer dus nie vir die toekennings nie.

“In Desember 2015 het ek Oom Manie se aandele oorgekoop en in 2016 is ek aangewys as opvolger vir lisensiehouer van die jaar.”

Nes in enige ander beroep, het dié van eiendomsagent ook ‘n “moeilik en ‘n maklik”, vertel sy.

“Die moeilikste is om ‘n balans te handhaaf. Jy moet leer om jou foon af te sit, maar dit is moeilik, want jy wil daar wees vir kliënte. Die bedryf het ook ‘n slegte naam en ‘n mens werk altyd onder integriteit en eerlikheid, maar nie almal het dit nie. Jy moet jou eerlikheid met elke nuwe kliënt bewys,” verduidelik sy.

In een van haar Facebookinskrywings vertel sy hoe sy ‘n harde les oor gehoorsaamheid moes leer.

“Ek het geskryf dat gehoorsaamheid ‘n duur prys kos. Iemand anders het gesê ongehoorsaamheid is nóg duurder. Ons het weggegaan vir ‘n paar dae en ek het besluit om my handsak eerder veilig by die huis te los. Ek wou dit in ‘n kas sit en het gehoor hoe die Heilige Gees vir my sê ek moet dit nie doen nie en hom eerder na my kamer neem. Ek het nie geluister nie en my handsak agter ‘n rekenaar gesit. Hulle het by ons huis ingebeek en my rekenaar, asook my handsak met alles daarin, gesteel. Dinge sou soveel makliker gewees het, as ek net na die Heilige Gees geluister het.”

Die feit dat sy ‘n passie vir haar werk het en mense maklik lees, tel in haar guns. Kliëntediens tel vir haar baie en sy glo ‘n mens word gebore met onderhandelingsvermoë.

“My leuse is ‘Soek die Koninkryk van God, en die res sal bygevoeg word’. Ek spandeer graag my vrye tyd saam met my familie en ek geniet dit om op ons kleinhoewe te sit en na die sonsondergang te kyk, partymaal met my neus in ‘n boek.”

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button