Local NewsNews

40 goue jare in onderwys vir Julein Fillis

Na 40 jaar in die onderwys laat Julein Fillis diep spore in baie mense se lewens na.

POLOKWANE – ‘n Vrou met ‘n hart van goud, vol liefde, vreugde en geluk is hoe haar familie, vriende, kollegas en oudleerders haar in een sin beskryf.

Sy het in 1977 haar loopbaan in die onderwys begin by Benny Groenwald Primêre Skool in Richmond in die Kaap. In 1982 het sy haarself in die stad gevestig en by Westenburg Sekondêre Skool as Sub B (nou gr. 2) onderwyser aangesluit.

Julein Fillis.

Toe die hoër- en laerskole in 2002 geskei het, het sy na die laerskool, Good Hope Primêre Skool, oorbeweeg.

“Ek het my werk baie geniet en dit was vir my ‘n vreugde om soggens op te staan om te gaan werk. Ek het elke oomblik daarvan geniet om met die kinders te werk en om deel van hulle ontwikkeling te wees. Daar is nie groter vreugde as om ‘n kind se gesigsuitdrukking te sien wanneer hulle iets verstaan nie,” sê sy.

Johanna Scheepers, ‘n jarelange vriendin en kollega van Julein, onthou hoe hulle as jong meisies saam in die onderwys begin het.

Johanna Scheepers, kollega en vriendin van Julein Fillis, wens haar ‘n mooi pad vorentoe tydens haar afskeidspartytjie.

“Julein is meer as net ‘n kollega vir my. Sy is ‘n kosbare vriendin en soos ‘n suster vir my. Sy is ‘n baie unieke persoon, nederig maar bekkig,” skerts sy. “Sy het ook ‘n baie klein hart en gee baie om vir ander,” vertel Johanna.

Good Hope Adjunkhoof, John le Roux, sê dit is moeilik om van Julein afskeid te neem omdat sy so ‘n waardevolle mens in die onderwys is.

“Daar is baie leerders wie deur jou hande gegaan het en vandag is hulle suksesvol in verskeie beroepe. Jy het ‘n belangrike rol in baie lewens gespeel en dit sal altyd onthou word. Ons is dankbaar dat iemand soos jy deel was van die Good Hope-familie en dat soveel van die jonger personeel by jou kon leer.”

Familie, vriende en kollegas vier Julein Fillis se 40 jaar in die onderwys by haar aftreepartytjie.

‘n Oudleerder van Julein, Monica van Niekerk, vertel dat sy en haar vyf broers almal in haar klas was.

“Sy is ‘n baie streng dog liefdevolle mens. Een ding wat ek nooit van haar sal vergeet nie is dat sy altyd bereid was om die ‘extra mile’ vir ‘n kind te stap. My kinders was almal ook in haar klas gewees en ek is dankbaar vir die fondasie wat sy vir my en my kinders gelê het. Dit het ons gemaak wie ons is vandag en ek is trots om haar my juffrou te noem,” sê Monica.

Julein Fillis (voor tweede van regs) en haar grondslagfase kollegas.

Haar raad aan ander wie in onderwys belangstel is: “Uit my eie ervaring oor die jare is my advies aan onderwysers om geduldig te wees met die kinders en om hulle liefde te gee. Onthou, die kinders is nie almal dieselfde nie want hulle word in verskillende omstandighede groot”.

cheryllee@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button