Local NewsNews

Kankerdiagnose ‘n groot slag vir familie

"Ons lewens soos wat ons dit geken het, is aan skerwe."

POLOKWANE – Riaan Enslin (47), ‘n lewenslustige pa van vier kinders,  se lewe is vroeg verlede maand heeltemal omver gegooi toe hy die nuus kry dat hy graad vier kanker het.

Sy vrou, Marilu, sê Riaan het omtrent ‘n jaar gelede pyn in sy buik ondervind en was verskeie kere by die dokter wat vir hom gesê het dat dit infeksie is en antibiotika voorgeskryf het.

“Nadat hy die antibiotika voltooi het het dinge vir ‘n ruk beter gegaan, maar die pyn het altyd teruggekeer,” vertel Marilu.

Sy vertel dat Riaan vroeg verlede maand erge pyn ervaar het en die gesin het hom inderhaas na die dokter geneem.

“Ons het nie ‘n mediese fonds nie en moes raap en skraap om die doktersfooie te betaal. Die dokter het hom na ‘n uroloog verwys vir verdere toetse,” sê Marilu.

Die uroloog het twee gewasse op Riaan se prostaat gevind en bevestig dat een van die gewasse wel kankeragtig was. Verdere toetse is gedoen en die tellings het bevestig dat dit wel kanker is.

“Waar die normale telling omtrent vier moet wees was Riaan s’n 37,7. Hy moes onmiddellik geopereer word en hy is op 11 Maart in teater toe. Hy is na die operasie na die hoësorgeenheid oorgeplaas en op 14 Maart ontslaan. Die hospitaalrekening was R42 667,25 wat nie die toetse of die narkotiseer ingesluit nie, so ons moes weer raap en skraap en geld leen om die koste te dek.”

Die gesin het op 25 Maart bevestiging ontvang dat Riaan graad vier prostaatkanker het wat volgens toetse baie aggressief is. Verder is daar bevind dat die prostaat met gewasse deurtrek is en dat dit aan die bekkenbeen vas was, dus kan dit nie geopereer word nie.

“Ons lewens soos wat ons dit geken het, is aan skerwe. Dit was vir ons ‘n doodsvonnis. My man is ontroosbaar en huil dag in en dag uit. Ek self is uitgehuil. Ons twee dogtertjies vra ook kort-kort of hul pa gaan doodgaan. Hy bekommer hom oor wie vir ons gaan sorg. Sy oudste drie kinders bly tans in die Kaap en is ook geweldig bekommerd. My hart voel afgestomp, ek weet ek nie wat om te doen of te sê nie,” vertel Marilu met trane in haar oë.

Dokters het aanbeveel dat Riaan bestraling moet kry, maar dit kos R105 370 om daarmee te begin.

Kort na hulle troue in 2009 is Riaan deur ‘n besigheidsvennoot ingedoen en was die familie sonder geld en hy sonder werk. Hy het in 2012 weer werk gekry en sy werkgewers het die gesin tot dusver finansieel bygestaan.

“Ons moet dringend hierdie fondse insamel sodat Riaan ‘n kans sal hê om te lewe en sy dogtertjies te sien groot word. Asseblief ek bid en smeek op my knieë vir enige donasies, geen skenking is te klein nie,” vra Marilu.

Marilu het ‘n rekening by CandyStick geopen waarin fondse vir Riaan se mediese koste betaal kan word.

Die bankbesonderhede is:

Rekening naam: Mev. M.L. Enslin.

Bank: FNB.

Rekeningtipe: tjek.

Takkode: 250655.

Rekeningnommer: 62608465242.

“Baie dankie uit die diepte van my hart vir die tyd wat u geneem het om ons storie te lees, woorde kan nie beskryf wat dit vir ons beteken nie,” sê Marilu.

 

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button