Local NewsNews

Pieter en hokkie gaan hand aan hand

"Ek het op 11-jarige ouderdom kennis gemaak met die sport en het hard gewerk om in gr. 10 reeds in die skool se eerstespan te speel."

POLOKWANE – Of ‘n mens aktief aan ‘n sport deelneem, of net ‘n ondersteuner en toeskouer is, het ons wel almal ‘n gunsteling sport wat ons ondersteun.

As gr. 7-leerder het Pieter du Toit-Roos reeds hokkie gespeel vir Hoërskool Pietersburg (PHS) en hy vertel graag dat hy dié sport baie meer geniet as rugby.

“Ek het op 11-jarige ouderdom kennis gemaak met die sport en het hard gewerk om in gr. 10 reeds in die skool se eerstespan te speel.”

Hy het na skool by die Polokwane Hokkieklub aangesluit en het al drie keer in die provinsialespan gespeel.

“Ek speel aanvallend en ek beoog om dié jaar weer provinsiaal te speel.

“Wanneer ek tyd het, help ek ook met die afrigting van die o/16 seuns by PHS.”

Hy vertel dat hy ‘n baie kompeterende persoon is en dit haat om te verloor, maar dat dit juis dít is wat hom help om harder te werk. Hy het ook Ultimate Frisbee gespeel, maar het besef dat tyd nie in sy guns tel nie.

“My moeilikste wedstryd wat ek nog gespeel het, was in gr. 12 toe ons teen Hoërskool Ben Vorster gewen het in ‘n finaal. Met hokkie wen jy óf baie ver óf jy verloor baie ver. Die moeilikste van hokkie is, soos met ander spansporte, om die spel te lees. Jy kan as individu baie goed wees, maar dit beteken nie dat jy die spel kan lees nie.”

Met ‘n lag onthou hy sy eerste doel. “Ons het in gr. 12 na Bloemfontein getoer waar ons teen ‘n gemengde span gespeel het. Daar was ‘n Suid-Afrikaanse doelwagter en ek het teen hom ‘n doel geslaan.”

Hy vertel dat indien hy nie meer sou kan speel nie, sal hy steeds betrokke wil bly deur af te rig en op komitees te dien.

“Limpopo se hokkie toekoms is blink. Ons het goeie afrigters en hier is nou twee Astro-bane. Ons geleenthede raak ook beter. Daar is ook twee sterk klubs en twee opkomende klubs en die sport groei, veral onder vrouens.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button