Local NewsNews

Operasie die laaste uitweg vir Marina

Die enigste hospitaal waar dié operasie uitgevoer kan word is die Life Faerie Glen Hospitaal in Pretoria

POLOKWANE – Baie kinders val ten minste een keer in hulle lewe. Vir sommige is dit glad nie erg nie en staan hulle dadelik weer op en loop maar ander bly lê en benodig hospitaalbehandeling.

Marina Verster het as jong kind hard op haar boude beland nadat sy met ‘n foefie-glybaan afgegly het en geval het. Sy vertel sy is gestuur vir X-straalplate, maar het geen behandeling ontvang nie, ten spyte van pyn en ongemak.

“Dit was altyd seer as ek hardloop en dus was ek nie baie aktief nie. In gr. 10 of 11 was ek baie oorgewig en dokters het gesê ek moet eers gewig verloor voor hulle iets aan my situasie kon doen. Teen die tyd is vasgestel dat die rugwerwels gedraai het en ek het ernstige skoliosis gehad,” vertel dié enkel ma waar sy sit en werk.

Sy vertel verder dat sy op 25-jarige ouderdom nie meer in rye kon staan nie en dat sy naalde-en-speldegevoel in haar bene en voete gehad het.

Sy is na die Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal, voorheen bekend as Ga-Rankuwa Hospitaal, waar dokters na twee jaar se ondersoeke ingestem het om haar te opereer.

“Ek was vir agt ure in die teater en toe ek uitkom is ek ingelig dat hulle my rug net gestut het. Die operasie was ‘n mislukking en van die skroewe wat met die operasie in my rug gesit is, sny aan die rugspier elke keer wat ek buk en weer regop kom. Daar is ook ‘n skroef wat in my boud insteek en ek is in gedurige pyn.”

Marina Verster se rug na ‘n mislukte operasie, asook die x-straalplate met die skroewe duidelik sigbaar.

 

Marina vertel verder dat sy dr. Etienne Coetzee in November raadgepleeg het waar hy verduidelik het dat haar toestand erger is as wat sy gedink het. Sy moet baie dringend geopereer word aangesien haar rugmurg onder geweldige stremming is, en as dit knak is sy vir die res van haar lewe verlam.

“Dit is angswekkend om net daaraan te dink. My rugmurg trek soos kougom uitmekaar uit en die spanning kan enige oomblik meegee. Ek kan iets eenvoudigs doen soos om om te draai, en dan kan my rug breek. Ek kan ook nie eers wasgoed ronddra nie. Ek kan nie lank in een posisie wees nie, en staan dikwels en werk aangesien dit baie seer is om te sit. My 10-jarige seun weet ook nie hoe dit voel om met sy ma te speel nie, want ek is nie in staat daar toe om met hom te speel nie,” vertel sy hartseer.

Dit is hoe Marina Verster se rug lyk, asook die x-straalplate met die skroewe in, na die mislukte operasie.

Marina vertel dat sy na beraming R280 000 benodig voor sy die broodnodige operasie ondergaan. Coetzee het aanbeveel dat sy binne ses maande geopereer word en dus moet sy teen die laatste in April geopereer word. Die geld wat sy insamel sal deur ‘n plaaslike prokureur hanteer word en hier is ook ‘n fisioterapeut wat haar dienste gratis aan Marina aangebied het.

Indien iemand ‘n bydrae wil maak, kan Marina Labuschagne gekontak word by 083 226 3375 of carmasigns@gmail.com.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button